Singende slimkop spog met 8 onderskeidings

Amira Willighagen het pas matriek geslaag en reis tans deur Europa. Hier is sy in haar tuisland, Holland. (Foto: Facebook/Amira Willighagen)

Amira Willighagen, die Hollandse sangsensasie wat haar skoolloopbaan in Potchefstroom, Suid-Afrika, voltooi het, is verheug dat haar matriekuitslae aan haar verwagtinge voldoen het.

Dié singende slimkop vertel aan Maroela Media sy het agt onderskeidings ingeoes, en al het sy nie die onderskeiding vir wiskunde gekry waarvoor sy gehoop het nie, is sy steeds tevrede met haar prestasie.

Sy het verlede jaar, kort ná haar matriekafskeid, aan Maroela Media gesê sy mik vir nege onderskeidings.

“Al die eer en dankbaarheid gaan aan die Here wat vir my die talent, kennis en vermoë gegee het om so ʼn resultaat te behaal. Ek is egter verlig dat die harde werk en die gewag nou verby is.”

Sy het onderskeidings gekry vir Afrikaans, Engels, lewenswetenskappe, lewensoriëntering, dans, drama, musiek en fisieke wetenskap.

“Ek is baie dankbaar vir die onderwysers aan Potchefstroom Gimnasium (Gimmies) en hulle volgehoue ondersteuning. Ek gaan die mense wat bygedra het tot my skoolloopbaan mis, maar ek is gereed vir ʼn nuwe hoofstuk in my lewe.”

Amira verlede jaar, stralend in haar matriekafskeidrok. (Foto: Acorn Tribe Photography)

Sy vertel sy het ʼn opwindende jaar wat voorlê en verklap dat sy vanjaar gaan fokus op haar sangloopbaan.

“Ek het tydens my skoolloopbaan nie baie tyd afgeneem om te sing nie, want die akademie is ook vir my belangrik. Daarom gaan ek myself vanjaar in musiek verdiep.”

Haar liefdadigheidstigting, Gelukskinders, het ook ʼn hele rits projekte wat vanjaar van stapel gestuur word, waaronder ʼn netbalprojek vir jong meisies.

“Ek gaan ook my inskrywing vir die Universiteit Stellenbosch finaliseer. My kop staan in daardie rigting omdat hulle musiekafdeling so gewild is.”

Sy voeg by dat haar ouers en broer, Fincent, “ongelooflik trots” is op haar prestasie. “Dit is dierbaar dat hulle so reageer en dat hulle graag wil feesvier. Ek is dankbaar vir my ouers wat my ook deur die eksamens ondersteun het en veral vir my ma, wat saam met my die Wolkskool se video’s van Macbeth gekyk het,” sê sy laggend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Baie geluk aan jou, dankie ook dat jy nie grootkop gekry het met jou oorwinning in die Holland’s got talent nie. Jou voete is deeglik vas op die aarde. Sterkte met jou loopbaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.