Foto’s: Jong sangeres straal op matriekafskeid

Amira straal in haar matriekafskeidrok. (Foto: Acorn Tribe Photography)

As een van die wêreld se bekendste soprane is die operasangeres Amira Willighagen gewoond daaraan om in blink uitrustings en balrokke op groot verhoë oor die wêreld heen te sing.

As 18-jarige matriekleerder aan Potchefstroom Gimnasium is Amira egter net ʼn doodgewone jong meisie met drome van haar eie matriekafskeidrok.

Sy kon uiteindelik verlede week in dié droomrok, ʼn pragtige silwer skepping deur Jose de Canha Couture, haar matriekafskeid bywoon.

Amira, die Hollandse sangsensasie wat as negejarige in 2013 die wenner van Holland’s Got Talent was, het intussen na Potchefstroom in Noordwes verhuis saam met haar ouer boetie, Fincent, en haar ma, Frieda.

Sy het die matriekafskeid saam met haar kêrel van die afgelope jaar en nege maande, DJ Stoop (18), bygewoon. Hy is ʼn matriekleerder aan die Hoër Volkskool Potchefstroom.

Dié twee skole se afskeidsgeleenthede het op dieselfde datum plaasgevind, maar die paartjie het besluit om eerder Amira se afskeid by te woon.

Sy vertel aan Maroela Media sy en haar ma, ʼn Suid-Afrikaner, droom al lank oor haar matriekafskeidrok.

Amira Willighagen en haar kêrel, DJ Stoop, op haar matriekafskeid. (Foto: Acorn Tribe Photography)

“Ek dink my ma was byna meer opgewonde as ek oor die matriekafskeid,” sê sy laggend.

“Ons het heeltyd getwyfel oor die kleur van die rok. Ons het op ʼn dag in Jose se ateljee gestap vir ʼn rok vir ʼn ander geleentheid en daar het ʼn silwer rok gehang wat nog nie voltooi was nie. Ek en my ma het albei dadelik gedink die kleur is baie oorspronklik en elegant, en ons albei was gaande oor die blinkers.”

Hoewel sy voorheen male sonder tal aandrokke vir optredes gedra het, was sy nog nooit so opgewonde oor ʼn rok soos haar matriekafskeidrok nie, sê sy.

“Dit was vir my baie spesiaal omdat die dag nie gegaan het oor ek wat op ʼn verhoog moet staan nie. Ek kon net die dag saam met my vriende en my kêrel geniet.”

Amira en DJ. (Foto: Acorn Tribe Photography)

Amira het haar die afgelope paar jaar op haar skoolloopbaan toegespits en het die vrugte van haar toewyding aan die skoolboeke gepluk deur nege onderskeidings vir vanjaar se rekordeksamen te behaal.

Sodra die eindeksamen afgehandel is, pak Amira ʼn wêreldtoer aan om weer lewe in haar sangloopbaan te blaas. Die toer sal in Holland afskop, waarna sy deur Europa en dan na die VSA en deur Suid-Afrika sal reis.

“Tussendeur sal ek ʼn paar meestersklasse via die internet bywoon en my CV opbou.”

Die slimkop beplan om ná die wêreldtoer in Stellenbosch of Kaapstad musiek en biologie te studeer. Haar kêrel, wat ʼn gedeelte van die wêreldtoer gaan meemaak, gaan egter in Noordwes agterbly om aan die Noordwes-Universiteit (NWU) te studeer.

“Ek het vir myself die doelwit gestel om weer nege onderskeidings in die eindeksamen ook te behaal. Ek wil net al my Godgegewe talente op die regte manier gebruik en langs die pad mense inspireer en help.

“Ja, ek weet dit klink asof ek alles kan doen, maar ek is nie so goed in balsport nie,” skerts sy laggend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petrie ·

Ek haal myhoed af vir die jong dame. Sy weet duidelik watsy in die lewe wil en werk hard daarvoor. Met daai wonderlike stem kon sy in hierdie tyd wat sy op skoolbanke spandeer het baie geld in die vermaaklikheidswêreld gemaak het. In plaas daarvan het sy gekies om haar skoolloopbaan te voltooi.
Sy gaan beslis nog groot hoogtes bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.