Sit ʼn kleurvolle voet voor vir mediese werkers se geestesgesondheid

Die publiek word aangemoedig om ʼn sokkie-selfie met die hutsmerke #Care4OurCarers en #CrazySocks4Docs te plaas. (Foto: Min An/Pexels)

Die belangrikheid van gesonde psigiese welstand onder mediese personeel word vanjaar wêreldwyd op 2 Junie deur #CrazySocks4Docs-dag gevier. Lede van die publiek word aangemoedig om ʼn kleurvolle voetjie voor te sit ter ondersteuning van dié inisiatief.

Maroela Media het vroeër berig dat dié dag, wat vra dat mediese studente en personeel, sowel as lede van die publiek snaakse sokkies dra om hul steun aan gesondheidswerkers te wys, aanvanklik vir die eerste keer in Australië van stapel gestuur is om die stigmas rakende gesondheidsorgwerkers wat met hul geestesgesondheid sukkel, te verbreek.

Die #CrazySocks4Docs-beweging is deur dr. Geoff Toogood, ʼn Australiese kardioloog wat self met depressie en angs gestry het, van stapel gestuur.

Sy uiteindelike doel is om dokters se selfdood wêreldwyd te verminder. #CrazySocks4Docs is een manier waarop hy bewustheid rondom dié kwessie wil kweek.

Die Ithemba-stigting, ʼn niewinsgewende organisasie wat bewusmaking en navorsing rakende depressie en ander verwante siektes ondersteun, dryf vanjaar die vyfde #CrazySocks4Docs-dag in Suid-Afrika.

Die publiek word aangemoedig om ʼn sokkie-selfie van hul helderste kombinasie van onpaar kouse met die hutsmerke #Care4OurCarers en #CrazySocks4Docs te plaas om steun aan gesondheidswerkers te wys.

“Ons almal het ʼn verlore sokkie of kous in ons laai wat op 2 Junie maar net te bly sal wees om ʼn maat te vind om die belangrikheid van hierdie dag te beklemtoon. Kom ons gebruik die geleentheid om ʼn reuse-dankie te sê aan al ons gesondheidswerkers,” meen Lizette Rabe, stigter van die Ithemba-stigting en emeritusprofessor verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Ithemba beteken hoop in isiXhosa. Die boodskap is dus: As depressie die siekte van wanhoop is, moet ons vashou aan hoop.”

Volgens dr. Kerry Louw, ‘n senior lektor by die Departement Psigiatrie aan die US, is geestesgesondheidskwessies onder gesondheidsorgwerkers wydverspreid en goed gedokumenteer.

Dié kwessie is onder die soeklig geplaas tydens ʼn onlangse seminaar by die US se Fakulteit vir Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

“Gesondheidsorgwerkers staar oorweldigende uitdagings in hul werksomgewings in die gesig wat hulle ‘n groter risiko vir geestesgesondheidsprobleme gee, insluitend uitbranding, depressie, angs, dwelmgebruiksversteuring en selfmoord,” het Louw tydens dié geleentheid uitgelig.

Selfmoord onder dokters is hoër as in enige ander professie, en gesondheidswerkers is minder geneig om hulp in dié verband te versoek.

“Daar was nog altyd ‘n verwagting in die samelewing dat gesondheidsorgwerkers die behoeftes van pasiënte en die samelewing eerste sal stel en die antwoord op komplekse probleme sal hê. In die tyd van Covid-19 was daar ‘n selfs sterker helde-narratief in die media wat gesondheidsorgwerkers moes hanteer en hulle moes ook die behoeftes van ander eerste stel,” het Louw bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.