Só hou kunstenaars die pot aan die kook

Robbie Wessels voor sy koffiewaentjie, waar hy sommer self die koffie bedien. (Foto: Robbie Wessels/Facebook)

Die mat is in Maart verlede jaar behoorlik onder uitvoerende kunstenaars wêreldwyd se voete geruk en hulle kan steeds, byna ʼn jaar later, nie ten volle terugkeer verhoog toe nie weens Covid-19-inperkingsmaatreëls.

Om die pot aan die kook te hou, het ʼn hele rits Afrikaanse kunstenaars ander inkomstebronne ondersoek en sommige het sommer ʼn heel ander loopbaanrigting ingeslaan.

Die grapjasakteur en musikant Robbie Wessels het sowat twee jaar gelede ʼn waentjie gekoop wat vir ʼn stalletjie gebruik kan word. Hy het onlangs besluit om dié waentjie in ʼn koffiestalletjie te omskep en het hom die afgelope naweek in Garsfonteinweg in Pretoria staangemaak.

Hy het Vrydag die koffie gratis weggegee sodat mense kan proe en bewus raak van sy stalletjie en Saterdag het hy die koffie verkoop. Hy het altesaam 400 koppies koffie verkoop aan mense wat van reg oor Pretoria gekom het om hom te ondersteun en ʼn geselsie aan te knoop.

Honderde mense het op Facebook geskryf van die wonderlike ervaring wat hulle by Wessels se koffiestalletjie gehad het en hom geprys vir die “nederige” persoon wat hy is.

“Dit was heerlik en ek dink dit was vir die mense ook so ʼn bietjie van ʼn geleentheid om uit te kom. Elke keer wanneer ek ʼn koffietjie skink, het ek eers ʼn geselsie aangeknoop. Dit is amper soos wanneer mense ná vertonings my albums kom koop en laat teken, maar dié keer het ek meer energie gehad omdat ek nie vooraf ʼn klomp moves op die verhoog gedoen het nie,” skerts hy.

Jak de Priester. (Foto: Verskaf)

Die sanger vertel hy het ʼn liefde vir koffie en geniet dit ook om vir kuiergaste koffie te maak wanneer hulle aan huis by hom kuier.

Hy gebruik ʼn Italiaanse Bialetti-koffiepotjie om sy brousel te maak, maar is nog nie van plan om elke dag die koffiestalletjie oop te maak nie.

“Dit was vir my só lekker om in die stalletjie te werk, dat ek besluit het om sommer elke keer, sover ek kan, self die koffie te skink en saam met die mense te kuier.”

Die geliefde liedjieskrywer en aanbieder Jak de Priester het in November verlede jaar na Kleinmond in die Wes-Kaap verhuis en het sedertdien by die internasionale eiendomsmaatskappy Chas Everitt aangesluit.

De Priester restoureer en herverkoop reeds die afgelope 15 jaar eiendomme en het sy passie vir koop en verkoop oor die land heen in plekke soos Vishoek, Stellenbosch, Die Strand, Parys en Pretoria uitgeleef. Met dié ondervinding in die eiendomsmark het De Priester besluit om op ʼn meer professionele vlak betrokke te raak by die eiendomswêreld.

Hy en sy vrou, Michelle le Roux, werk as ʼn span. Die egpaar verduidelik dat hulle dié besluit moes neem aangesien teaters, venues en kunstefeeste tans huiwerig is om konserte vas te maak weens Covid-19.

“Ons gaan in hierdie tyd ons volle gewig by die Chas Everitt-groep ingooi. Ons gaan betrokke wees by die Stellenbosch-kantoor, maar kan hulp verleen reg oor Suid-Afrika.”

Die sanger hou vol dat hy nie van plan is om die verhoog permanent vaarwel te heet nie. “Dit is nie iets waarin jy kan bedank nie. ʼn Mens word ʼn kunstenaar gebore en kunstenaar sal jy wees tot jy die dag die lewe totsiens roep [sic].”

Corlea Botha. (Foto: Verskaf)

Corlea Botha, die sangeres met die engelstem, versteek ook nie haar talente onder die maatemmer nie en behartig tans saam met haar stileerder en vriendin Elzaan van der Merwe mooimaaksessies vir vroue.

Van der Merwe is die eienaar van Mamila Fashions in Pretoria en is ʼn “wonderwerker” wanneer dit by stilering en mode kom, sê Botha.

“Ek het ook al 27 jaar ervaring van haarstilering en grimering vir my eie optredes. Ek het nie ʼn kursus gevolg nie, maar ek het al deur die jare baie wenke opgetel en vaardighede aangeleer. Dit is vir my ongelooflik lekker om steeds kreatief te kan bly.”

Sy sê sy die tema van haar en Van der Merwe se mooimaaksessies is selfliefde. “Vroue vergeet om na hulself te kyk, veral noudat hulle bitter min die huis verlaat. Dit is egter uiters belangrik dat ʼn vrou goed moet voel oor haarself, want die mense om haar kan dit aanvoel en ook goed voel oor hulself.”

Corlea hou haarself deesdae onder meer besig deur haarstilering en grimering te doen. (Foto: Corlea/Facebook)

Die mooimaaksessies behels haarstilering en grimering, vier of vyf uitrustings deur Mamila Fashions en ʼn fotosessie deur Sané Visser van Humming Twin Photography.

“Ek moet gereeld eers die dames wat kom vir die sessies moed in praat. Meeste vroue sê hulle dra nie grimering nie omdat hulle nie weet wat die korrekte manier is om dit aan te wend nie. Ons haal die vroue uit hulle gemaksones en vele vroue het al in trane uitgebars om te sien hoe pragtig hulle kán lyk.”

Botha sê sy kan ook afsonderlik bespreek word vir haarstilering en grimering. “Ons wil dankie sê aan die publiek wat ons inisiatiewe ondersteun in hierdie tyd. Of dit nou ʼn mooimaaksessie of ʼn koppie koffie is, ons sê dankie. Dit is beslis nie maklik nie, want terwyl ons nie kan optree nie, het ons geen ander bron van inkomste nie.”

Vir besprekings van mooimaaksessies skakel 082 469 7948 of stuur ‘n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.