‘Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.’ (Matteus 5:7)
Om barmhartig te wees beteken nie om vir iemand ’n geldjie in die hand te stop nie. Barmhartigheid beteken om opregte medelye te hê, jou in daardie persoon se plek in te dink en saam met hom soontoe te gaan. Dis om geskenkies uit te deel aan gevangenes in die tronk of tee en toebroodjies in die staatshospitaal te bedien. Dis om deel te raak en saam te voel, nie om verwyderd te wees nie. Soms vra dit van jou om ingewortelde gevoelens van wantroue en minagting teenoor sommige individue en groepe te erken en te verwerk.
Die goeie mense van Jesus se tyd wat die voorbeeld moes stel, het Jesus veroordeel omdat Hy saam met tollenaars en sondaars eet. Hy het die Fariseërs en ander geestelikes op hul plek gesit en hul skynheiligheid by die naam genoem. Die tollenaars en melaatses het wye draaie om daardie skynheiliges gegooi, maar Jesus gevolg. Hy het hulle hoop gegee en onvoorwaardelike liefde.
Ons lees van tien melaatses wat na Jesus toe gekom het en genees is. Hy het al tien genees en net een het na Hom toe teruggekom om dankie te sê. Natuurlik het Hy dit vooraf geweet, maar Hy het nogtans nie onderskeid getref nie. Professionele mense wat hul dienste en tyd gratis aanbied, ondervind ook soms, nes jy, te veel ondankbaarheid in stede van ’n bietjie erkentlikheid. Maar dis nie hoekom jy jou hulp aangebied het nie. Jy doen dit omdat jy God en jou naaste liefhet, nie om beloon te word nie. Wees jy iemand wat liefde uitdeel, dan sal jy iemand wees wat eendag, wanneer jy dit die nodigste het, liefde in oorvloed ontvang.
Jesus sê: ‘Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete’ (Matt 7:12).
Here Jesus, help my om mense se nood raak te sien en te help waar ek kan.
Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media
Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital
Dankie ABBA, dat U altyd daaris! Amen
Amen