Afrikaanse Bybel op spesiale wyse gevier

Die FAK het ʼn nuwe beeld, “Die Saaier”, deur Jacques Müller, ‘n beeldhouer en skilder van Pretoria, bekendgestel wat aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika geskenk is. (Foto: Verskaf)

Op 27 Augustus het duisende mense in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal byeengekom om saam met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ʼn dankdiens vir die 90ste bestaansjaar van die eerste Afrikaanse Bybel te hou.

Tydens die 90-jaar-vieringe het die Bybelgenootskap ook Bybels aan verskeie skole oorhandig om die spreekwoordelike fakkel van geloof aan ʼn volgende geslag te oorhandig. Agt mense wat saam met die Afrikaanse Bybel in 1933 gebore is, het dié geleentheid bygewoon.

“Dit is spesiaal dat hulle ons eregaste kon wees en Bybels aan ʼn volgende geslag kon oorhandig,” het ds. Cassie Aucamp, direksielid van die Voortrekkermonument en verteenwoordiger van die Bybelgenootskap, gesê.

“Natuurlik is 100 jaar ʼn meer prominente mylpaal, tog is die mooi van 90 dat dit vandag omtrent die jare van ʼn mens se leeftyd is. Mense kom en gaan, maar die Woord bly ewig.

“Ons Afrikaanse Bybel is 90 jaar oud, soos hulle wat dit aan die skole oorhandig het. Hulle en ons lewe gaan verby, maar die Bybel oorleef elke menslike geslag. Die oorhandiging aan die jeug, spesifiek deur hulle wie se lewensskof byna voltooi is, is ʼn getuienis en verkondiging daarvan.”

Vir Aucamp is dit besonder spesiaal om ’n Bybel in Afrikaans te hê omdat hy, nés Totius, glo dat daar ʼn intieme verhouding tussen die Woord, God en die mens moet wees, ʼn verhouding wat jy net in jou moedertaal kan bou.

“Wanneer ʼn mens besin oor die belangrikheid van ʼn Bybel in hulle eie taal sal die antwoord dalk vir almal verskil, tog voel ek hiér is dit belangrik om vir dr. JD du Toit (Totius), eindvertaler van die 1933-Afrikaanse Bybel, aan die woord te stel: ‘Alleen wat vir ons volkome duidelik is, wat met ons heeltemal siels-een is, ons kan toespreek sonder hindernis of tussenkomende beletsel. Tussen die Woord van God en die siel moet daar ʼn intimiteit bestaan wat alleen verkry kan word deur die toespraak en inspraak van die lewende moedertaal.’”

Tydens die geleentheid het verskeie sprekers soos dr. Danie Langner (FAK en Voortrekkermonument), ds. Dirk Gevers (Wêreldbond van Bybelgenootskappe), dr. Masenyani Baloyi (hoof van vertaling by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika) en dr. Theuns Eloff (Trust vir Afrikaanse onderwys) verskeie gesprekke gevoer. Dit was onder meer oor die ontstaan van die Bybel in Afrikaans, die bydrae van die Bybel tot Afrikaans as taal en die rol van Britse en Buitelandse Bybelgenootskappe op die vertaling van die Bybel.

(Foto: Eduardo Braga/Pexels)

Die FAK het ook ʼn nuwe beeld, “Die Saaier”, deur Jacques Müller, ‘n beeldhouer en skilder van Pretoria, bekendgestel wat aan die Bybelgenootskap geskenk is. Dié beeld is deur Mila van den Berg, agter-agterkleinkind van dr. HCM Fourie in ontvangs geneem.

“In hierdie olienhout-beeld van Müller, is ʼn saaier uitgebeitel wat werklik met inspanning die hand in die saadsak het. Saaiwerk is nie maklik nie. Selfs om die Woord te saai, is nie altyd maklik nie, en Bybelvertaling in die besonder is harde, inspannende werk wat jare duur,” verduidelik Aucamp die betekenis van hierdie beeld.

Hy voeg by dat Psalm 126 ook hierdie ‘harde werk-aspek’ van saaiwerk uitbeeld. “Daar staan geskrywe: ‘Al wenend saai hy oor die akker’.  Maar dan ook die wonderlike resultaat: ‘Maar vrolik word sy saaigraan wakker. En eind’lik dra sy nyw’re hand die volle gerwe van die land’. Die wonderlike is die oes, en daarvoor sorg die Here.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eendrag ·

Wil nie eers beging dink aan hoeveel weglatings en woord veranderings in die “comic” bybel is nie.

Gert ·

Die probleem is erger. Meeste mense lees eers nie meer die nuwe verdraaing nie. Maar wees gerus. Dit staan geskryf dat in die laaste dae gaan God sy Woord oor alle vlees uitstort. Selfs die jong klein kinders gaan sy Woord getuig.

Chris ·

Ek is seker naief of onnosel maar die nuwe weergawe van die Bybel lees vir my lekker. Ek dink ek het uiteindelik die Boodskap gesnap en is heeltemal tevrede en verlustig my in my verhouding met ons Hemelse Vader. Die beste storie wat ek al van ‘n herdenking van of vrystelling van die Bybel wat ek gehoor het was die van oorlede Jan Spies. Die storie is so gepas. Het dit al vele kere geluister en lag elke keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.