Gedagte vir die dag: Alle soorte mense

vriende-strand-stocksnap-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: stocksnap/pixabay.com

“Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?” het Jesus gevra. “Waarmee sal Ek hulle vergelyk?” (Lukas 7:31)

Vanweë ons opvoeding of spesifieke uitkyk op die lewe is ons dikwels eksklusief in ons optrede met mense. Dit ís so dat ons van sekere mense meer hou as van ander; daarom meng ons gewoonlik met die soort mense wat vir ons aangenaam is om by te wees. Maar ons is geroepenes van die Here. Hy het ons lewe aangeraak en vra dat ons sy instrumente sal wees in hierdie stukkende wêreld. Dit bring ’n nuwe gerigtheid in ons verhouding met ander mense. Dit gaan nie nou net meer daaroor of ons van mense hou nie, maar hoe ons hulle kan bedien, wat ons vir hulle kan beteken.

Jesus was lief vir almal. Hy kon met almal gesels. Hy kon by almal kuier (v. 29). Hy praat met tollenaars en prostitute en eet by ’n Fariseër. Hy sit tussen die kerkmense, dan gaan sit Hy by ’n Samaritaanse vrou by ’n waterput. Hy praat met die geleerde Nikodemus, maar dan sit Hy ook saam met die kindertjies en seën hulle. Hy bedien Romeinse offisiere, maar ook Joodse weduwees. Jesus is beskikbaar vir almal onder alle omstandighede.

Kom ons leer weer van Jesus. Wanneer ons werklik vir mense lief is en hulle graag wil bedien, oorwin ons ons vrees vir hulle. Dan maak dit nie saak of ons vir hulle aanvaarbaar is en of hulle van ons hou nie, en of hulle ons beïndruk of nie. Dan word hulle vir ons die voorwerpe van God se liefde en kan ons hulle in die oë kyk, tyd saam met hulle deurbring en bloot lief wees vir hulle.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.