Lees: Psalm 42:1-7
Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: “En waar is jou God nou?” Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! (Psalm 42:4, 6-7)
In Psalm 42 deel Dawid sy hartseer met God, dat hy dag na dag in trane is. “My tears have been my food day and night,” lui die New King James-vertaling. Nog ’n oorsaak van erge stres is juis verlies en hartseer, en op aarde spring niemand dit vry nie.
In een van sy rubrieke vir Die Burger skryf Dana Snyman oor die verskillende leuses van skole. Die leuse van die laerskool op die piepklein Karoodorpie Rietvlei het dadelik my oog gevang omdat ek lank gelede daar gepraat het. Ek onthou nog hoe verskriklik koud dit was en hoe pragtig die sterre daar was. Dana vertel dat die skoolkomitee byeengekom het om ’n leuse vir die skool te kry. Een man het “Reik na die sterre” voorgestel, juis om dat die sterre so helder in die Karoo is. “Nee,” het ’n Karooboer gesê, “daardie leuse is te deftig vir ons. Kom ons maak dit eerder ‘Beur boontoe’!”
Hier op aarde is ons almal aan die boontoe beur, en hierdie beurdery gaan soms met baie spanning gepaard. Gelukkig weet ons darem dat die hemel vorentoe vir ons wag, eendag wanneer al ons gebeur uiteindelik op ’n end sal wees. Hou dus moed as jy op die oomblik onder ’n groot verlies steier. God weet van jou hartseer en Hy beloof om in sy nuwe wêreld al jou trane af te vee.
Here, U weet dat ek die laaste tyd pal in trane is. Dankie dat U van my hartseer weet en beloof om eendag al my trane af te vee. Help my om boontoe te beur! Amen.
Met al die negatiewe dinge wat deesdae gebeur voel ‘n ou baie oorweldig en hulpeloos veral as jy nog klein kinderjies ook het. Mens vergeet maklik dat al hierdie aardse goed tydelik is.
Laat ons nie vergeet van die groot rus wat op ons wag en laat ons nie meegevoer word deur aardse gebeure nie.
Mooi gesê!