… Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! (1 Korintiërs 9:16)
Ons is dikwels geneig om die diep, geestelike en bonatuurlike aanraking van God te vergeet. Indien jy kan sê presies waar jy was en wanneer dit was toe jy die roeping van God ontvang het en ook alles daaromtrent kan verduidelik, dan bevraagteken ek dit of jy werklik geroep is. God se roeping kom nie op daardie manier nie; dit is meer bonatuurlik. Die bewustheid van die roeping mag in ’n persoon se lewe plaasvind soos ’n donderslag, of dit kan geleidelik wees. Maar ongeag hoe vinnig of geleidelik hierdie bewustheid kom, word dit altyd vergesel van ’n bonatuurlike onderstroming, iets wat onuitspreeklik is en wat ’n “glans” teweegbring. Die skielike bewustheid van hierdie onberekenbare, bonatuurlike, verrassende roeping wat van jou lewe besit geneem het, kan op enige oomblik deurbreek. “ … Ek het julle uitgekies … ” (Joh. 15:16). Die roeping van God het niks te doen met verlossing en heiligmaking nie. Jy word nie geroep om die evangelie te verkondig omdat jy heilig is nie; die roeping om te preek is iets totaal anders. Paulus beskryf dit as ’n verpligting wat hom opgelê is.
Indien jy die groot bonatuurlike roeping wat God vir jou lewe het, geïgnoreer het en dit dus verwyder het, neem dan jou omstandighede in oënskou. Kyk waar jy jou eie idees omtrent diens, of jou besondere vermoëns vóór die roeping van God geplaas het. Paulus het gesê: En wee my as ek nie die evangelie verkondig nie! (vgl. 1 Kor. 9:16). Hy het bewus geword van die roeping van God en die verpligting om die evangelie te verkondig was só sterk dat niks anders meer met die krag daarvan kon kompeteer nie.
Wanneer God ’n man of ’n vrou roep, maak dit nie saak hoe moeilik die omstandighede is nie. God orkestreer elke mag wat aan die werk is om uiteindelik sy doel te bereik. Indien jy met God se doel saamstem, sal Hy nie net die bewuste vlak van jou lewe nie, maar ook daardie dieper vlak wat jy nie kan bereik nie, in perfekte harmonie bring.