Gedagte vir die dag: Danksegging

ramshoring_stiltetyd.jpg

Foto: charismanews.com

Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam. (Psalm 100:4)

Hoe kan ons ons dankbaarheid op ’n gepaste wyse aan God wys? Hoe kan ons lof ooit genoeg wees, en hoe kan ons ten volle uitdrukking gee aan ons respek vir die Allerhoogste? Woorde faal ons voortdurend, dit skiet tekort aan die emosie en aanbidding wat opwel wanneer ons ons seëninge, wat oor geslagte strek, tel.

Om in God se teenwoordigheid in te gaan, word gepas vergelyk met die buitenste voorhof, histories die oop ruimtes rondom die tempel, wanneer ’n mens pas deur die poorte gegaan het. As ’n plek van openbare aanbidding, is dit hier waar ons God loof en dank terwyl ons aan sy goedheid dink.

Onveranderlik deur die geslagte, sy liefde en trou onbegrens en sy ontferming elke oggend nuut, is Hy die Vriend van die waarheid, die Vader van die wese, die Beskermer van die weerloses.

Laat ons daarom nie hierdie universele oproep tot danksegging ignoreer nie. Laat dit die kenmerk van ons lewens wees, die een eienskap wat ons onderskei van ander en waarvoor ons bekend sal wees: dat ons in alle omstandighede dankbaar is, God se hand in alles sien, Hom altyd vertrou en met blydskap dien.

Here, my hart loop oor van dankbaarheid vir die duisend geskenke wat ek elke dag van U ontvang Behalwe dat U my uit genade gered het, wil ek die hele wêreld vertel van soveel meer waarvoor ek dankbaar is: familie, ’n huis en ’n werk, vryheid en vriende, kinders en kleinkinders, gesondheid, die kerk, selgroepe en boeke, stokperdjies en troeteldiere … Here, my dankbaarheidsbeker loop oor – nie net vandag nie, maar elke dag. Help my om ander te inspireer om elke dag aan U erkenning te gee vir elke genadegawe. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.