Gedagte vir die dag: Deel van jou lewe

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska, Pixabay)

Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit deel van jou lewe. (Spreuke 3:3)

Moenie dat die woord moenie jou afskrik nie. Die Here God is nie daarop uit om jou lewe te versuur met onnodige reëls en regulasies nie. As jou hart reg is en jy die Heilige Gees toelaat om dit met liefde vir God en jou naaste te vul, sal God se ‘moenies’ nie ’n blok aan jou been wees nie, maar vlerke waarmee jy die wêreld vol kan vlieg. Moenie sonder liefde en trou deur die lewe gaan nie. Sonder liefde en trou is jy vasgeknel in bande van afguns en haat. Jou hart verhard en jou sig verdonker. Jy vereensaam.

Wanneer jy liefde uitstraal en getrou God se voorskrifte volg, leef jy lig en vry en trek jy mense nader om in sy liefde te deel. Jaloerse kollegas en ander wat jou nie goedgesind is nie, sal op die ou end swig voor die aanslag van jou liefde in Jesus. Dra jou geloofswapenrusting en vaar die dag binne soos ’n getroue soldaat vir God. Neem liefde en trou in as geestelike voedsel en jou hart en verstand sal blom in die lig van God se genade. Jy sal vrugte dra wat pas by jou bekering en God verheerlik.

Hemelvader, vandag wil ek my hart oopmaak vir die gawes van die Gees. Seën my met liefde en trou, maak dit so deel van my samestelling dat almal wat my ken, Jesus in my sal raaksien.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.