Gedagte vir die dag:  Die Here se saak

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Lees Psalm 37:1-11, 39-40

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here … (Psalm 37:3-4)

Moet jou nie ontstel oor die skynbare voorspoed van goddelose mense nie. Skelms se rakleeftyd verstryk gouer as wat jy – en hulle! – dink. Daar is baie beter dinge om te doen as om jou oor hulle te kwel. Byvoorbeeld: Gaan voort met jou lewe. Die Here wat Hom nog altyd oor jou gekwel het, sal steeds sorg.

Dit is ’n kort samevatting van hierdie langerige psalm. En dalk moet gelowiges dié paar sinne dadelik op ’n yskasdeur plak, daar waar hulle vandag ’n paar keer gaan aandoen. Of dalk voor hul bed, waar hulle vanoggend of vanaand gaan kniel.

Miskien is die heel beste plek vir hierdie opgeplakte samevatting bo teen die plafon. Daar waarheen jy staar wanneer jy op jou bed lê en sukkel om tot slaap te kom. Ja, gaan plak dit daar, sodat jy dit nie kan miskyk nie: die vermaning om jou nie oor skelms te ontstel nie. Om nie jou tyd en krag en slaap ter wille van boelies en ander skurke op te offer nie.

Want wat kan jý nou eintlik daaraan doen? Sal jy, soos Jesus later sou sê, daardeur jou lewe “met een enkele uur verleng”? (Matt 6:27). Nee, jy kan niks aan hulle doen nie. En jy wil ook nie. Hulle is in die Here se visier. Hý sal vergeld (vgl. Rom 12:19).

Haal dan maar daardie nota af van die yskasdeur, die bed se kopstuk, die plafon. Skeur dit op. Vergeet van hulle. Die Here sal aan hulle dink, en sy tyd afwag.

Leef vol vreugde voort in die beskerming van Hom wat jou nooit sal vergeet nie.

Reinig my gemoed, Here! Ek laat alles aan U oor.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen!

Lena Jonk ·

Ons weet en vertrou net op Jesus. Die oorwinning sal sy kinders behaal deur net aan Hom vas te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.