Gedagte vir die dag: Die pyn van verlies

See-strand-gras-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Lees: 2 Korintiërs 1:3-4

God is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. (2 Korintiërs 1:3-4)

Paulus sê vir die gemeente in Korinte dat wanneer hulle probleme ervaar, hulle daardie probleme met vrymoedigheid na God kan bring. Hy is die God wat hulle sal help en vir hulle uitkoms sal gee. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer verliese ervaar jy, en hoe nodiger het jy vir God wat gereed staan om jou te help. Die afgelope paar jaar het ons ’n hele paar van ons jare lange vriende verloor – sommige deur die dood en ander deur aftakelende siektes. Dit laat ’n mens effe verward en laat jou wonder of jy dalk volgende gaan wees. Want elke verlies neem ’n deel van jou weg wat nooit weer heeltemal sal herstel nie. Jy sal daardie vriende bly mis. Tog laat jou verliese jou besef hoe kosbaar die lewe is, en dat jy voluit moet leef terwyl jy hier is.

Maar Paulus se storie hou nie hier op nie. God help ons met ’n doel, skryf hy, sodat ons weer ánder mense kan help en bystaan net soos Hy met ons doen. Die verliese wat vir jou so swaar is, kan jou help om ander mense te bemoedig wat ook dierbares verloor het, wat ook ondersteuning nodig het. Bied jou liefde en empatie vir hulle aan en help hulle soos God jou gehelp het in jou eie tyd van seerkry en verlies. Indien jy dit doen, het daardie verliese wat jy so swaar verwerk, ’n goeie doel gedien.

Here, U weet hoe swaar dit vir my is as my jare lange vriende oud en siek word en doodgaan. Wys my hoe om hulle by te staan soos U vir my gedoen het. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.