Gedagte vir die dag: Die werklikheid van ons geloof

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.” (Johannes 6:29)

Soms wonder ons: Het Jesus regtig uit die dood opgestaan? Is die Here Jesus regtig die Seun van God? Is die Here Jesus regtig deur die Heilige Gees verwek en gebore uit die maagd Maria?

As kinders was dit vir ons so maklik om in Kersvader te glo, alhoewel daar nie baie volwassenes is wat nog in hom glo nie! Wat ons nie besef nie, is dat dit meer geloof verg om in Kersvader te glo as om te glo dat Jesus Christus op die aarde geloop het.

Dit verg meer geloof om in feëverhale soos Kersvader en die Paashaas te glo as wat dit verg om te glo dat Jesus Christus die Seun van God is, dat Hy uit die hemel neergedaal het en as ’n baba gebore is, dat Hy tussen ons gewoon het om ons te wys hoe om te leef; en dat Hy aan ’n kruis gesterf het en drie dae later uit die dood opgewek is. Die werklikheid van glo, is dat Jesus Christus wel die Seun van die lewende God is en dat Hy wel binnekort gaan terugkeer.

In 1 Korintiërs 15:1-2 staan daar: “Broers en susters, ek herinner julle aan die Goeie Nuus wat ek tevore reeds aan julle verkondig het. Julle het dit aangeneem en hierdie boodskap vorm die vaste basis van julle geloof. Deur hierdie Goeie Nuus word julle verlossing bewerk, dit wil sê as julle daaraan vashou soos ek dit oorspronklik aan julle verkondig het – anders was julle geloof heeltemal nutteloos.”

Ek is ’n kind van God, nie omdat ek ’n goeie mens is nie, maar omdat God se Woord in 1 Johannes 1:9 so sê: “As ons ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.” Dis waarom ek lewe. Dis waarom ek nie skuldig voel nie. Jy moet besef die Here Jesus Christus is springlewendig. Die werklikheid van ons geloof is dat Jesus Christus die Seun van God is.

Liewe Here Jesus, U weet dat ek innig in u bestaan glo. Ek glo dat U neergedaal het om tussen ons te kom woon, dat U aan die kruis gesterf het vir my sondes, dat U uit die graf opgestaan en na die hemel opgevaar het. Dankie dat U my sondes vergewe en vir die geleentheid om vir ewig saam met U te kan woon. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.