Gedagte vir die dag: ’n Doodgewone vrou …

hande-water-tiburi-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay/tiburi.com

’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.” (Johannes 4:7)

Jesus was diep bewus van die krag van gewone vroue. Soos die Samaritaanse vrou van wie ons in Johannes 4 lees. In vers 4 lees ons dat Jesus sê hy “moes” deur Samaria gaan. Dis asof Hy ’n baie spesifieke afspraak met haar het.

Moeg geloop, gaan sit Hy by die put en wag op haar. Wanneer Hy haar vra of sy vir Hom water het, verstaan sy aanvanklik glad nie die versoek nie. Maar dan, wanneer Hy sê dat Hy aan haar en die wêreld lewende water kan gee wat vir altyd sal hou, gaan haar oë oop vir die Messias wat in lewende lywe hier voor haar staan. In die Oos-Ortodokse kerk word haar verhaal verder vertel. Sy lei nie net haar hele dorp na Christus nie, maar word, soos die apostels, ’n reisiger wat die evangelie tot aan die eindhoeke van die wêreld verkondig.

God raak baie dikwels doodgewone mense op doodgewone dae aan … en verander hulle en ander se lewens daarna radikaal. Het jy al daaraan gedink wat Christus alles deur jóú kan doen? ”

Here, laat u lewende water asseblief deur my vloei.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.