Gedagte vir die dag: Draai om

Foto: Annelize Brits – Namakwaland se blomme

Die Here is getrou! (2 Tessalonisense 3:3)

Sommige veldblomme groei altyd met hulle gesigte in een rigting gedraai: na die son toe. En as jy jou gesig ook na die son toe draai, sal jy nie hulle helder, treffende skoonheid kan sien nie. Jy moet omkyk om hulle prag te sien.

Wanneer jy nog ’n heuwel op jou pad oorsteek – jou oë gerig op die Seun en die pad voor jou, aangedryf deur die momentum van nog ’n dolle jaar – kan jy dalk …

Net ’n oomblik gaan staan. En omkyk.

Want as jy aanhou om die een voet voor die ander te sit om die jaar goed af te sluit, sal jy dalk sukkel om die sin in alles te sien. Jy los agter jou die jaar se oppe en affe en die lewe wat op fantastiese en uitmergelende en teleurstellende en verrassende maniere gebeur het. Maar die skoonheid daarvan – die geloof dat God dit alles sal gebruik tot sy eer en tot jou beswil – sal jy miskyk.

Gaan staan ’n oomblik. Draai om sodat jy die toneel agter jou kan sien. Daar is oorwinnings, oortuigings, avonture, ’n vrolike gelag en drukkies, alles aaneengestring in kleurvolle minute en maande. God kan onmeetlik baie meer doen as wat ons kan bid of dink (Ef. 3:20). Hy sien in die saad reeds die helder wonderwerk van blare en hoë bome. En Hy het jou as sy meesterstuk van ewigheid af al gesien en vir jou die goeie paaie voorberei waarop jy kan stap (Ef. 2:10). Hou aan stap. En kyk elke nou en dan om.

Vader, maak my oë oop vir die kaleidoskoop van u heerlikheid. Amen.

Bron: Reis lig deur die lewe deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Von ·

Dankie Here Jesus vir soveel genade….as ek net vir n wyle omkyk besef ek dat U my gedra het deur alle omstandighede….die Lof en Dank en Eer kom U toe…amen

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge Here. Amen!

Agter die skerms ·

Dankie vir U genade – soveel soveel genade. Ek is lief vir U my God. U is my vashouplek aan die lewe. Ek dink net altyd aan wat sou God wou gehad het ek moet doen en dan is dit asof daar skielik ‘n antwoord kom en ek doen dit. Amen.

Carol ·

Ere aan God die skepper van die heelal…Heilig heilig heilig! Die Heerser, Die Koning, Die Messias, Die Christus…Die Lewende God ♥

christa ·

Vader vir ons was dit n Baie Moeilike jaar
My Man Moe’s net sy pension geneem het by Stsr. En op Platteland n huis Kom Bou het. Ons het soveel keer om gekyk
Dit was Moeilik ons weet nie hoe ons deur dit Kom nie
Maar hier het ons weer eens Besef
Dat dit net Genade is
En my Man onder Baie Moeilike omstandighede gewerk
Dankie Jesus is AL wat ons Kan se U is so goed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.