Gedagte vir die dag: Ek is soms lui. Is jy ook?

Dooie-vlei-in-al-sy-glorie.jpg

Dooie Vlei Foto: Marianne Styan

Groei riete buite ’n moeras? Floreer vleigras waar daar nie water is nie? (Job 8:11)

Ons is almal maar soms lui. Trouens, daar word beweer ons is eintlik in wese lui gebore. Ons leer bloot aan om hard te werk, fluks te wees en gedissiplineerd te leef. Ek dink dis een van daardie “in-sonde-ontvang-en-gebore”-euwels waarmee ons maar elke dag saamleef.

Juis daarom is dit so maklik om ook in ons geestelike lewe maar te laat gaan. So stelselmatig lees ons al hoe minder die Woord, bid ons al hoe minder en verval ons maar weer in ’n patroon van “ek-doen-dinge-op-my-manier”. En dan … neem ons ou ego sommer gou weer oor. Begin allerhande dinge ons goeiehart-pogings verswelg. Raak ons algaande maar weer harde-oëmense wat ander veroordeel en vergeet om met sagtheid met hulle om te gaan.

As jy jou betrap dat jy jou geestelike pad so ’n bietjie afgeskeep het en maar weer self op jou troontjie geklim het, moenie moedeloos word nie. Maar moet ook nie daar bly nie. Neem kennis en doen iets daaraan. Begin sommer nou deur jouself weer aan die Vader oor te gee, Hom toe te laat om jou lewe te bestuur, jou in sy liefde te skool … jou weer ’n sagtheid van hart te gee.

Om lui te wees, is nie die einde van die wêreld nie. Om daar te bly, wel! Ons kan immers nie groei sonder die lewende water nie.

Ek weet ek is soms lui, Here. Vergewe my en help my om weer die dissipline van by-U te oefen.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae