Jonatan en Dawid het ’n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. (1 Samuel 18:3)
In die NLV staan daar: Daar was dadelik ’n band tussen hulle sodat hulle boesemvriende geword het. Jonatan en Dawid het toe ’n plegtige ooreenkoms aangegaan.
Ons het almal die behoefte aan ’n ware vriend by wie ons veilig kan voel. Selfs klein kinders wil ’n beste maatjie hê. Tussen my kinders se laerskoolbriefies kry ek ’n nota: Sal jy my spesiale maatjie wees? Ek weet jy sal nie my geheime oorvertel nie.
Ten diepste is dit ons elkeen se versugting. Ons wil ’n vriend of vriendin hê by wie ons absoluut veilig voel. Ons wil ons diepste gevoelens met daardie persoon deel sonder vrees dat dit oorvertel sal word. En ons wil op ons beurt daardie persoon koester en ervarings deel.
Ware vriende verryk mekaar se lewens. Hulle inspireer mekaar. Hulle bring die beste in mekaar na vore. Woorde is nie eens altyd nodig tussen ware vriende nie. Hulle vang mekaar se hartklop op. Hul siele resoneer.
Dawid en Jonatan was geesgenote. Hulle het onmiddellik tot mekaar aangetrokke gevoel. Met hul vriendskapsverbond belowe hulle lojaliteit aan mekaar. Dit het die erns waarmee hulle hul vriendskap bejeën, bevestig en hulle as’t ware aan mekaar vasgebind. In die Ou Testament is ’n verbond nooit ligtelik opgeneem nie. Dit was ’n belofte om aan mekaar getrou te bly. Dit was ’n gedeelde verantwoordelikheid.
Vriendskap is kosbaar. En broos. Dit moet soos ’n kleinood opgepas word.
Here, ek wil my vriendskappe oppas en koester. Amen
Jesus is my vriend. Elke gesprek is veilig.