Gedagte vir die dag: Aan u beloftes hou ek vas

Argieffoto (Foto: Jon Tyson/Unsplash)

“Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Psalm 119:11).

Oordenking
U beloftes weerhou my van sonde.

Here, ek hou vas aan U. Ek wil nie u beloftes vergeet nie. Is dit ook jou begeerte?

Wat is sonde? Ongehoorsaamheid aan die wil van die Here. Wetteloosheid.

Goddeloosheid.

Hoe kan die Here se beloftes ons van sondes weghou? Luister na hierdie belofte aan die begin van hierdie Psalm.

“Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel” (Psalms 119:1-3).

Dit gaan goed met jou, is die belofte. Dit is goed vir jou verhouding met God, vir jou omgang met jou naaste, vir jou selfbeeld. Dan het jy vreugde. Wat gee daardie dinge wat vir jou goed is? Wandel volgens die woord van die Here.

Doen sy wil met jou hele hart. Bly weg van onreg.

Wonderlik. Tog ontwyk dit ons voortdurend. Ons slaag nie daarin om so gehoorsaam te wees nie. Daarom het God die Vader sy Seun gestuur om ten volle mens te word. Hy is die enigste mens ooit, wat ten volle gehoorsaam kon wees, maar Hy doen nog meer. Hy is ons Bemiddelaar, wat bereid is om die sonde, wat ons vreugde steel, op Hom te neem. Hy doen wat ons moes uitleef om die seën van God se beloftes te ontvang.

Daarom is daar ʼn nuwe belofte: Glo in Jesus Christus, jou Verlosser. Ook die Heilige Gees is belowe. Hy het gekom en word aan elke kind van God geskenk.

Hy gee nuwe lewe, daardie nuwe wil en nuwe vermoëns om die ou sondige lewe te kruisig en heiligheid na te streef. Dan deel jy in al die seëninge van God se woord. Vrede met God. Vreugde in jou verhouding met Hom. Sekerheid van die ewige lewe as genadegawe ter wille van Jesus Christus.

Hou vas aan die beloftes van God: Sy Seun as jou Verlosser, die Heilige Gees as die lewewekker. Dit weerhou ons van sonde teen Hom.

Gebed
Ons Vader in die hemel, aan U kom die lof van ons harte toe. Ons hou aan u beloftes vas. Daarom vlug ons weg van sonde en wil U dien as u kinders. Amen.

Pitkos
“Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy” (2 Korintiërs 7:1).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.