Gedagte vir die dag: Gebed is rus

Argieffoto (Foto: Pixabay)

“Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het” (Matteus 6:11).

Skrifgedeelte
Matteus 6:11

Oordenking
Gebed is nie ʼn onderhandeling met God nie. Gebed gaan immers nie oor my nie – nie volgens die Onse Vader nie. Gebed gaan heel eerste oor God. Dit fokus op Hom, nie op my en al my behoeftes en versoeke nie. Gebed verskuif die soeklig voortdurend wég van myself. Dit laat my wegkyk. Dit laat my opkyk. Dit maak dat ek God beter raaksien in geloof.

Natuurlik mag ek ook bid vir my porsie daaglikse brood. Ek moet! Dit is ʼn opdrag in die Onse Vader: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Maar dan gaan dit vir Jesus oor daaglikse brood, nie oor selfsugtige versoeke en selfaangedrewe behoeftes nie. Ek mag om die regte redes aan die hemelse deur klop. Ek mag vra, smeek en pleit. Dit doen ek egter sonder om die gesprek met God te probeer dikteer. In elk geval het ek niks hier in my eie hande om mee te onderhandel as ek voor die Here verskyn nie. Ek kan maar net in verwondering en in nederigheid na Hom opkyk.

Vir elke stukkie genadebrood uit sy hand is ek eindeloos dankbaar. Aan God se voete kom ek vanjaar regtig tot rus.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.