Gedagte vir die dag: Gee God se beeld vir Hom terug

Argieffoto (Foto: Fuu/Unsplash)

God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep (Genesis 1:27).

Skrifgedeelte
Genesis 1:27

Oordenking
In 2018 het internasionale argeoloë in die vaktydskrif, Nature, vertel van ʼn skets wat in die Blombos-grot – sowat 300 kilometer oos van Kaapstad – ontdek is. Volgens hulle is dit die heel oudste skets wat nog ooit ontdek is. ʼn Soort “hashtag” of hutsmerk op klip, wat volgens hulle berekenings 73 000 jaar oud is, is daar gevind. Of dit kuns is, is steeds ʼn gesprek onder geleerdes, maar dat dit ʼn kosbare vonds was, is gewis. Dit vertel dat mense nog altyd kreatief is. Selfs al het mense vroeër in grotte gebly, moes dit ook mooigemaak en versier word.

God het ons gemaak om kreatief te wees, soos Hy. Hy het daar in sy hemelse kunsgalery alles uit niks geskep. In aardskuddende besonderhede het God die wêreld aanmekaargeweef. Ons as mense is die hoogtepunt van sy kreatiwiteit. So leer Genesis 1 en 2 ons. Ons as mense dra God se handtekening. Ons is sy meesterstukke. Selfs onder al die krapmerke van sonde en vernietiging is daar steeds nog iets van God se beeld in ons almal versteek. Onthou net, Hy wil sy beeld volledig vir Homself terughê in hierdie nuwe jaar. Dit geld vir jou en my ook.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.