Gedagte vir die dag: Heilige harte

Argieffoto (Foto: Nathan Mcbride/Unsplash)

“Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matthéüs 5:8).

 

Skrifgedeelte
Matthéüs 5

Oordenking

Die Here is altyd besorg oor wat in jou hart omgaan. Wat in jou hart omgaan, raak ook jou verstand, jou emosies en jou besluite (jou wil). Hier word dus jou persoonlikheid bedoel. Jou hart bepaal jou hele lewe. En waar ons as sondaars in die wêreld kom, is dit juis nodig dat jy jou hart bekeer. As iemand ’n gelowige word, dan verander jou hart en dus ook jou persoonlikheid. Al die onrein dinge word dan uit die hart geweer. Uit die hart kom die motiewe vir moord, leuens en slegte dade. Dus moet die hart rein gehou word. Daarvoor moet jy eerstens ernstig bid, omdat jy dit nie alleen kan regkry nie. Jy het die krag van die Heilige Gees nodig om jou hart te reinig en te bekeer. Jou wil en begeerte kan slegs deur die krag van sy Gees verander word om te wil doen en te wil wees wat Hy van ons vra: heilige harte, gedagtes en wense. Besig bly met die heilige dinge van God en sy koninkryk. Besig met Jesus, jou Verlosser en Redder. Die belofte daarby is dat jy God dan sal sien. Geen onheilige kan God ooit sien nie. God kan en wil niks met onreinheid te doen hê nie. Daarom moet jy maar weer biddend vra dat die bloed van Christus jou daagliks reinig van jou sondige hart – dan dra jy die belofte en jy sal God sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Vandag lewe hulle wie onrein van hart is soos konings en vergaan die wat rein van hart is van elende..? En God beskik dit so..? Hoekom?

Steph ·

Lees graag Psalm 37, en dan 73. Mens kry n prentjie van God se gedagtes.

Koen ·

Die wat dink hulle is so rein van hart is dalk nie. Stille waters, diepe grond…… Neem bv al die skynheiliges elke Sondag vroom in die kerk sit. Koester haatgedagtes waarvan niemand bewus is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.