Gedagte vir die dag: Help die skepping eerder

Argieffoto (Foto: Jean Pierre/Unsplash)

“Ons weet immers dat die ganse skepping nog steeds aan die kreun is” (Romeine 8:22).

Skrifgedeelte
Romeine 8:22

Oordenking
God se wêreld is onder groot druk. Ouderdom haal dit in. Of is dit eerder die vernielsugtigheid van die mensdom wat besig is om die wêreld te vernietig? Gifgasse van fabrieke, motors en veldbrande rig groot skade aan die atmosfeer aan. Ons eindelose besoedeling vernietig waterbronne. Plastiek besoedel ons oseane en laat visse en seevoëls in massas doodgaan. Ons vernielsugtigheid en gierigheid laat diere uitsterf en woude verdwyn.

Geen wonder Paulus skryf in Romeine 8:22 dat die skepping kreun nie. Dit sien met groot verlange uit na God se verlossing. Dit pleit by God om hulp. Ons moet ook die skepping se sugte raak hoor. Ons durf nie anderpad kyk as mense rommelstrooi, koolstofdioksied ongestoord die lug inpomp of waterbronne links en regs met plastiekhouers besoedel nie. Skoonmaak-aksies en opruimingsgeleenthede is praktiese maniere hoe ons kan help keer. Minder plastiek in ons eie huishoudings, minder ligte wat onnodig brand, beter benutting van gryswater is alles klein maar daadwerklike pogings wat sê: God se skepping maak regtig vir ons saak. Ons weier dat dit hier in ons eie omgewing verder verrinneweer. Ons kies om die skepping se treurliedere oral in lof te omskep.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.