Gedagte vir die dag: Jy kan nie neutraal teenoor Jesus staan nie

(Foto: Thanti Nguyen/Unsplash)

“En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ʼn val en ʼn opstanding van baie in Israel en tot ʼn teken wat weerspreek sal word” (Lukas 2:34).

Skrifgedeelte

Lukas 2:34

Oordenking
Jesus is as ʼn Joodse seun gebore. Sy ouers het die Joodse verbondsverpligtinge met hom nagekom. Hy is besny op die agtste dag en het die naam Jesus ontvang, soos die engel opdrag gegee het. Daarna moes sy ouers die loskoopseremonie by die tempel verrig. Twee duiwe word as offer aangebied. Dit wys vir ons dat sy ouers uit ʼn nederige sosiale milieu gekom het.

Soos gebruiklik neem die priester aan diens die kindjie in sy arms en seën hom tydens die spesiale geleentheid. Maar hier vind veel meer plaas as die ouers wat getrou aan die verbondseise die tempel besoek het. God het bepaal dat die koms van die Messias op daardie dag bekendgemaak sal word.

Die ou priester, Simeon, het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy voor sy dood die Gesalfde van die Here sou sien. Daarom gaan hy juis daardie dag na die tempel, soos deur die Gees gelei. Hy word as profeet gebruik om aan die verbaasde Josef en Maria te verkondig wie Jesus is.

Onder andere sê Simeon: Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ʼn val en ʼn opstanding van baie in Israel en tot ʼn teken wat weerspreek sal word (Lukas 2:34). Tweevoudig sal die gevolge van die koms van die Messias wees: Sommige sal daardeur tot ʼn val kom, andere sal deel in die opstanding.

Tot ʼn val

Niemand sou neutraal teenoor hierdie Messias-kind kon staan nie. Sommige sou Hom verwerp, wat vir hulle tot nadeel sou wees. Hulle verwerping beteken dat hulle nie sal deel in die verlossing wat Hy bring nie. Hulle sou verlore gaan.

Tot ʼn opstanding

Deur God se genadige beskikking sou daar egter tog mense in Jesus glo. Hulle sal Hom as Seun van God, die Messias-Gesalfde, die beloofde Verlosser, erken en volg.

Teken wat weerspreek word

Jesus was God die Vader se teken van getrouheid wat vroeër deur sy profete verkondig is. Tog sou Jesus as teken weerspreek word. Hy sou deur baie teengestaan word, veral deur die geestelike leiers van daardie tyd.

Uiteindelik word Hy oorgegee om gekruisig te word.

Tot vandag nog kan niemand neutraal teen Jesus, wat mens geword het, staan nie. Wie in Hom glo en Hom as Verlosser volg, sal gered word. Ons dank die Here dat Hy mense daardie keuse laat maak. Maar die wat Hom verwerp, sal tot ʼn val kom en vir ewig verlore gaan.

Gebed
Hemelse Vader, U beskik verlossing en kondig dit deurentyd aan. Lei u uitverkore kinders om tot hulle redding in Jesus as Christus te glo. Amen.

Pitkos
Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” (1 Petrus 2:7).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat ek U volkome kan vertrou vir my redding en die van my geliefdes…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.