Gedagte vir die dag: ’n Lewende voorbeeld

Argieffoto (Foto: Am Tran/Unsplash)

“Jy moet ’n goeie voorbeeld stel, suiwerheid in die leer handhaaf, met gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal die teenstanders beskaamd staan omdat hulle dan niks slegs oor ons te sê het nie (Titus 2:7-8).

Skrifgedeelte
Titus 2:7-8

Oordenking
Kinders leer van jongs af by volwassenes dat net wenners eintlik saak maak. Vir baie ouers en onderwysers is slegs die eerste plek belangrik. Natuurlik is dit wonderlik as kinders hulle talente en vermoëns van ’n jong ouderdom af ontwikkel. ’n Mens moet egter daarteen waak dat die najaag van sukses belangriker word as hulle verhouding met God.

Behoort kinders nie ook ander belangrike waardes in die lewe te leer buiten wen, wen, wen nie? Sien hulle hoe ons as ouers die Here met toewyding dien? Sien hulle elke dag hoe ons oop harte en hande het vir mense wat minder bevoorreg is? Is ons lewende voorbeelde van liefde en vergifnis vir ander? As die antwoord nee is, kan ons mos nie kla oor die “jeug van vandag” of na hulle verwys as die “verlore generasie” nie. Dalk verdien ouers eerder hierdie titel. Kinders leer alles wat hulle weet by volwassenes; daarom moet ons hulle reg leer en ’n goeie voorbeeld stel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Amen…Here help my om so te lewe dat veral kindertjies U in my kan sien

Marietjie ·

Amen op hierdie gedagte van die dag…lewensvoorbeeld deur ouers vir kinders is so belangrik. Geen iemand hetsy ‘n werkgewer, dominee, onderwyser, ens, kan ‘n saadjie water gee wat nooit geplant is nie……en dit liewe ouers, begin by die ouershuis.
Dankie Here vir ouers wat saadjie planters is…hulle sien en hoop op ‘n toekoms!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.