Gedagte vir die dag: Opstand teen leiers, gebed en oordeel

Argieffoto (Foto: Courtney Cook/ Unsplash

“Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid (Numeri 16:4).

Oordenking
Ons beleef vandag dikwels anargie, opstand teen leierskap, opstokery en misbruik van mag. Daarmee saam gaan sameswering in groepe om die gesagsorde omver te werp. Oral in die wêreld slaan dit soos swere op ʼn siek liggaam uit. Dit is egter nie iets nuuts nie. In die sondige mens se wese is daar jaloesie en hunkering na mag, wat weer tot konfrontasie met die gesagstruktuur lei.

Hoe reageer Godvresende leiers op georganiseerde teenstand teen gesag?

Tydens die Israeliete se reis deur die woestyn op pad na die beloofde land vind ons opstand (Numeri 16). Kortliks opgesom: Korag, Datan en Abiram, saam met 250 ander leiers uit die volk, het in opstand gekom teen die gesag van Moses en Aäron. Moses val op sy knieë in gebed voor God. Hy pleit daarna by die leiers van die groep om na God se uitspraak te luister. Hulle verwerp egter sy gesag en belaster die Here se verlossingswerk. Met ʼn verskriklike oordeel sluk die aarde vir Korag, Datan en Abiram en hulle gesinne in. ʼn Vuur verbrand ook die ander 250 leiers. Die volk besef God se toorn daaroor en vlug daarvan weg.

Jy kan in so ʼn posisie kom. Of afgunstig wees op leiers wat ordelik aangewys is, of jy is ʼn leier wat nie jou posisie eervol beklee nie. Hoe los ʼn mens sulke spannende situasies op?

Moses het drie keer hieroor gebid. Toe hy en Aaron vals beskuldig word dat hulle, hulle bo die volk verhef, val hy op sy knieë voor God. ʼn Teken van sy nederige onderdanigheid aan die Here, wat uitspraak sal gee. Die uitspraak sal die volgende dag gegee word wanneer hulle met offervuurpanne by die tabernakel kom. Wie se offer deur die Here aangeneem word, sal die regmatige leiers wees. Datan en Abiram weier hierdie reëling, beledig Moses-hulle en verwyt die Here dat hulle uit Egipte geneem is na ʼn slegter woestyntoestand. Dan bid Moses weer, maar in woede oor die verwaande opstandigheid, dat die Here hulle offers nie sal aanvaar nie. Wanneer die opstandiges wel na die tabernakel kom, toon God sy magtige teenwoordigheid. Hy gee uitspraak: Ek gaan die hele volk vernietig! ʼn Derde keer bid Moses. Hy tree in vir die volk en vra dat slegs die opstandiges gestraf word.

Hierin openbaar die Almagtige se heilige wil. Hy regeer deur mense wat Hy aanwys as leiers. Wanneer daardie gesag uitgedaag word, wil Hy nie dat die leiers wraak neem nie. Nederige gebed dat God sal wys hoe die saak opgeklaar moet word, bring ʼn oplossing. Hy sal self straf. Leiers mag ook deur gebed intree vir diegene wat nie saam in opstand gekom het nie.

Gebed
O Here van die leërskare, gee leiding aan leiers wanneer hulle gesag uitgedaag word, sodat u heilige wil oplossings kan bring. Amen.

Pitkos
“Die Here regeer: die volke erken bewend sy gesag” (Psalm 99:1).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.