Gedagte vir die dag: Passie is aansteeklik

vriende-vriendskap-reisgenoot

Foto: Joshua Sazon/Unsplash.com

“Apollos was ʼn goeie prediker. Hy het sy bes gedoen om die mense te leer hoe om Jesus na te volg” (Handelinge 18:25).

Skrifgedeelte
Handelinge 18:25

Oordenking
Kom ek wees nou maar eerlik: Ek haat dit om siek te voel of siek te wees. Ek kom ʼn paar weke gelede terug uit die mooie Kaap en is opgewonde oor alles wat die Here daar gedoen het. Daardie nag, terug by die huis, word ek wakker en voel verskriklik goor en siek. Die volgende oggend is ek regtig baie siek. Ek het ʼn verpligting bewerig nagekom en die res van die dag net gelê om die virus te probeer uitslaap. Die volgende week tref die ding toe van my kollegas – een van hulle het summier flou geword. Die virus is toe by dit alles ook nog aansteeklik. Dink maar hoe aansteeklik was Covid.

Min dinge in die lewe is so aansteeklik soos iemand wat energie en passie vir die lewe het. Dit is heerlik om aangevuur en aangesteek te word deur iemand anders se entoesiasme en opgewondenheid oor ʼn saak. Ek het al baie beleef hoe iemand anders se passie my ook opgewonde maak oor ʼn saak. Dit is hoe Apollos is: Hy is opgewonde en loop oor van passie vir die evangelie. Hy het wel beperkte kennis, maar aan vuur en drif ontbreek daar niks nie. Hy dra sy boodskap vurig oor. Hy loop oor van opgewondenheid oor Jesus en die kruis en smeer dit af aan ander mense.

Ek is doodseker dat jy ook aan baie mense kan dink aan beide pole: die passievolle kant en die energielose spulletjie. Ek is oortuig dat jy verseker ook passievolle mense verkies – mense met energie en ʼn lus vir die lewe. Hierdie gedeelte wil jou uitdaag om soos Apollos te wees: vurig en aan die brand vir Jesus. Wees propvol passie oor die Goeie Nuus!

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.