Gedagte vir die dag: Respek is ons voorkeurroete

Argieffoto (Foto: Akira Hojo/Unsplash)

“Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God.” (1 Petrus 2:17)

Skrifgedeelte
1 Petrus 2:17

Oordenking
Dit is nie net motors, selfone, TV’s en rekenaars wat gesteel word nie. ʼn Mens se respek kan ook gesteel word. Elke keer wanneer mense mekaar afbreek, afkraak, vloek of beledig, word respek stukkie vir stukkie uit hulle harte en lewens gesteel. Dit kan ook met ons gebeur as ons ons harte nie behoorlik oppas nie. Agterdog maak baie vinnig ʼn blyplek in ons harte. Om nie eens van wantroue te praat nie. Ons mag nooit gratis blyplek gee aan so ʼn  destruktiewe ingesteldheid teenoor ander mense hier in ons binneste nie.

1 Petrus 2:15-17 leer ons om ander mense met eerbied te behandel. Dit is God se wil dat ons alle mense moet eer. Die Here gee nie aan ons ʼn vergunning om mense te haat van wie ons verskil nie. Nee, dit beteken nie ons is naïef of blind vir dit wat verkeerd is nie. Ons weet immers om ons woorde te tel tussen dwase en om versigtig te wees tussen gevaarlike mense. Maar ons laat nooit toe dat respek uit ons harte gesteel word deur die lewe se geloofdiewe nie. Ons verstekmodus, ons basiese leefmodus as gelowiges, is altyd respek, nie agterdog nie.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.