Gedagte vir die dag: Selfsugtige begeertes benadeel jou gebede

Argieffoto (Foto: Umit Bulut/Unsplash)

“Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ʼn ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie, en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig” (Jakobus 4:1-3).

Skrifgedeelte

Jakobus 4:1-3

Oordenking
ʼn Verkeerde gesindheid teenoor wêreldse dinge, lei uiteindelik tot groot vyandskap tussen jou en jou naaste. Dit kan selfs jou verhouding met God laat verbrokkel. Die samevatting van Sy wil vir jou lewe is liefde: eerstens teenoor Hom, waaruit liefde vir jou naaste groei en ʼn regte gesindheid teenoor jouself. Wie homself en sy eie belange egter bo alles liefhet, raak ʼn gevangene van selfsug. Alles wat jy dan begeer, is net om jouself te bevoordeel. Dit kan dan nie ander vrugte dra as stryd, rusie en jaloesie nie, want elkeen word vir jou ʼn bedreiging. Mense pleeg selfs moord en lande maak oorlog daaroor.

Jou selfsugtige begeertes kan so oorheersend word, dat selfs jou gebede daardeur bepaal word. Of jy bid glad nie, want jou vertroue is op wêreldse dinge en nie op God nie. Of jy bid verkeerd en ontvang nie, omdat jou gebed deur selfsugtige begeertes gedryf word.

Armes en rykes val in die strik vas. Armes begeer so die rykdom van ander dat dit in sondige jaloesie en stryd – selfs moord – kan oorgaan. Rykes se lewensdoel is later net om meer en meer te besit – en wee die een wat in die pad daarvan staan.

Ten diepste gaan dit om een saak: Op wie is jou liefde gerig? Is dit selfsugtig op jouself gerig, of op wêreldse dinge? Vriendskap met die wêreld beteken vyandskap teen God (Jakobus 4:4).

Hartgrondige bekering maak ons vry van hierdie gevangenskap. God se genade is groot. Daaroor getuig Paulus: “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” (Filippense 4:12,13).

Leef dan vandag soos ʼn vriend of vriendin van God, wat in nederige afhanklikheid jou vertroue op Hom stel – veral dan ten opsigte van die materiële dinge. Deur sy krag kan jy in die regte gesindheid teenoor wêreldse dinge leef.

Gebed
Ons Vader in die hemel, bevry ons van selfsugtige begeertes en maak ons dankbaar vir ons daaglikse brood. Amen.

Pitkos
“Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig” (Galasiërs 5:24).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.