Gedagte vir die dag: Soms werk dinge anders

Argieffoto (Foto: Debby Hudson/ Unsplash)

“Ek dink ook die tyd het gekom om Epafroditos na julle toe terug te stuur. Hy het saam met my geswoeg en gesweet. Julle het hom mos na my toe gestuur om my te help. Nou stuur ek hom na julle toe terug” (Filippense 2:25).

Skrifgedeelte
Filippense 2:25

Oordenking
Ek is redelik seker dat jy ook al die ervaring gehad het dat jy met sekere verwagtings na ʼn plek gegaan het, maar egter iets heel anders ervaar het as wat jy gedink het jy sou. Ek het al sekere uitstappies in die pragtige Laeveld meegemaak waar ek gedink het die pragtige plantegroei gaan die hoogtepunt wees. Dan sien ek dalk ʼn waterval wat my asem wegslaan. By die see het ek al die ervaring gehad dat ek gaan swem en nie kan wag vir die branders nie. Ewe skielik, naby die swemstrand, speel ʼn walvis in die water wat my verstom laat staan.

Paulus is al weer in die tronk ter wille van die evangelie. Die Christene in Filippi het daarvan gehoor en vir Epafroditos na hom gestuur met die opdrag om Paulus te gaan help. Ek kan net dink dat dit nogal ʼn uitdaging en avontuur vir hom moes gewees het. Heeltemal onverwags word Epafroditos ernstig siek – sodanig dat hy by die dood omdraai. Hy moes baie teleurgesteld gewees het, want in sy kop was die hele sending dalk een groot mislukking.

Dinge werk nie altyd uit soos ek en jy dit beplan nie. God het dalk ʼn ander plan as jy; daarom voel dit soms vir jou of jou bootjie omgekeer word. Dit is in tye, wat jou verwagtinge nie realiseer soos jy gedink en beplan het nie, wat jy God se hand moet raaksien. Dit is in sulke tye dat jy God moet vertrou. Hy is in beheer. Laat toe dat Hy sy planne deurvoer.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.