Gedagte vir die dag: Vanjaar is dit ‘pyt’-tyd

Argieffoto (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

“Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry” (Matteus 11:29).

Skrifgedeelte
Matteus 11:29

Oordenking
ʼn Ruk gelede is die Deense woord “pyt” aangewys as Dene se gunsteling-term. Hulle gebruik dit graag wanneer hulle in situasies beland waaroor hulle nie beheer het nie. Dan blameer hulle nie alles en almal nie, want hulle weet die lewe het onbeplande knikke. Jy daag byvoorbeeld op by die bank of poskantoor en die tou is lewenslank. Dan sê jy maar “pyt”. Of die snelweg staan stil en jy is laat vir werk. Dan is dit alweer “pyt”-tyd.

In Afrikaans sou ons waarskynlik kon sê: “Dit is hoe dit is. Die lewe gebeur maar.” Natuurlik moet jou geloof jou ook meer sorgvry laat leef. Jou geloof moet al daardie verwyte uit jou hart verwyder. Jesus het dit ernstig bedoel toe Hy in Matteus 11 gesê het sy las is lig en sy juk is sag. Hy gee werklik rus vir jou gemoed. Hy bring vrede in jou siel.

Laat asseblief ook vandag toe dat jou geloof jou hart tot bedaring bring en jou leefstyl rustiger maak. Leef vanjaar “pyt” uit. God se Gees is by jou.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.