Gedagte vir die dag: Volg Jesus onvoorwaardelik

Argieffoto (Foto: John Towner/Unsplash)

“Laat staan julle nette. Kom agter My aan! Word my volgelinge. Dan sal Ek julle wys hoe om op ʼn nuwe manier vis te vang. Ek sal julle leer om van nou af mense te vang wat in sonde leef sodat hulle deel kan kry aan God se nuwe wêreld” (Matteus 4:19-20).

Skrifgedeelte
Matteus 4:19-20

Oordenking
Laat jou verbeelding ʼn bietjie met jou op loop gaan en dink aan die volgende situasies: Jesus stap ʼn onderwyser se klaskamer binne en sê vir die man hy moet alles laat staan en agter Hom aankom. ʼn Geskokte klomp jongmense kyk hoe die onderwyser die klas verlaat en Jesus volg. Jesus stap by ʼn prokureur se kantoor in en nooi haar om agter Hom aan te kom. ʼn Verwarde kliënt sit en kyk hoe die prokureur alles los en Jesus volg. ʼn Dokter is besig met ʼn pasiënt as Jesus by sy spreekkamer ingeloop kom en hom nooi om agter Hom aan te kom. Die dokter los alles net so en volg vir Jesus.

Dit is min of meer wat gebeur wanneer Jesus vir Petrus roep om sy volgeling te wees. Petrus en van sy vriende is vissermanne. Dit is hulle lewe. Dit is wat hulle eet en dit is hoe hulle ʼn inkomste verdien om in hulle basiese behoeftes te kan voorsien – soos ʼn onderwyser, prokureur of dokter vandag. Dit was ʼn baie moeilike keuse met radikale gevolge om alles net so te los en agter Jesus aan te loop. Petrus en sy vriende het egter nie een oomblik getwyfel nie. Hulle lê hulle sekuriteit in die lewe neer en volg Jesus onvoorwaardelik.

Vertrou jy God onvoorwaardelik? Is jy werklik oortuig dat Hy jou innig liefhet en net die beste vir jou wil hê? Is jy werklik bereid om soos Petrus jou hele toekoms in sy hande te gee en Hom te volg? Dit is wat die Here vandag en ook môre van jou vra. Vertrou Hom en kies om Hom te volg.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

So baie van ons werk net om kos op die tafel te kry , gelukkig met ons beroep ,nie almal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.