Gedagte vir die dag: Wees op die regte plek

Argieffoto (Foto: John Towner/Unsplash)

Jesus het hierdie gelykenis vertel: “ʼn Man het ʼn vyeboom in sy tuin geplant en telkens gekom om te kyk of daar al vye aan was, maar hy was altyd teleurgesteld” (Lukas 13:6).

Skrifgedeelte
Lukas 13:6

Oordenking
“Location, location, location!” Die regte adres is alles, ook vir navolgers van die Here. Die regte adres is eintlik altyd die Here se wingerd. In Lukas 13 vertel Jesus vir ons van hierdie wingerd. Hy is hier self aan die werk as Hemelse Tuinier. Hier sorg Hy vir vrugte in oorvloed. Hier versorg Hy ook daardie een vrugtelose vyeboom wat nutteloos in die wingerd rondstaan. Jesus plaas selfs sy eie reputasie op die spel deur al die werk te doen sodat hierdie boompie kan vrugte dra.

Ek het ʼn vermoede ek is hierdie vrugtelose vrugteboom wat eintlik net spasie opneem in die Here se aardse wingerd. Tog weet ek ook iets aardskuddends: Die Tuinier gee nie moed op met my nie. Hy het ʼn seisoen van genade of grasie vir my bewerkstellig, ʼn seisoen van hemelse bemesting. Daarom vertoef ek in sy wingerd. Ek is elke dag op die uitkyk vir waar die Here aan die werk is, dan maak ek seker ek is daar. Dit is waar die wingerd is. Daar reën dit seën. Daar neem die regte vrugte altyd vorm aan. Wees asseblief saam met my daar waar die Here se genade in oorvloed beskikbaar is.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.