Lees Psalm 23:1-3
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie (Psalm 23:1)
Hierdie geliefde psalm begin met sekerlik die bekendste geloofsbelydenis in die kerk en tussen gelowiges: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.” Hoe kan dit ooit mooier gesê word!
Die volgende twee verse brei daarop uit en vertel in kort stellings presies hoe goed dié Herder is: Hy laat rus; Hy bring; Hy gee; Hy lei.
Dit is dalk omdat hierdie woorde so bekend en bemind is dat gelowiges nie juis meer daaroor dink nie – en dit is goed so. Ons hoef nie aanhoudend oor ons geliefde geloofsgoed te dínk nie; ons kan dit bloot oor ons laat spoel, sodat dit ons oordek, toemaak, beveilig. Rustig maak. Laat glimlag, al is dit tussen trane deur. ’’n Vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.
Ons wens hierby is sekerlik dat niemand, veral ook nie ons kinders en kleinkinders, hierdie psalm se lieflikhede misloop nie.
Daarom moet ons daarmee rekening hou dat nie almal, en dalk juis nie ons kinders en kleinkinders nie, weet wat ’n herder is nie. Watter rol hy in ’n troppie skaap se lewe speel. Hoe hy voorloop, vooruitsien, vooruitbeplan. Hoe sy blote teenwoordigheid sy skape se sekerhede beliggaam.
Dalk is dit in elk geval gelowige grootmense se vernaamste roeping: om op alle moontlike maniere teenoor jonges en kleintjies te getuig wat ’n herder is, en veral hoe hy is. En as dit nodig is, woorde daarvoor te gebruik.
Om dikwels na hulleself te wys, te sê: Só lyk die beste Herder se swakste lammetjie.
U loop al lank die pad met my, u lam. U is my rus, my groen weivelde, my water waar daar vrede is.
Dankie Here dat U die weg vir ons baan. Amen