Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:8-9)
’n Mens beland soms in die greep van omstandighede wat jou laat voel asof dit die lewe uit jou pers. Jy is totaal kragteloos. Dit is die doring-in-die-vlees-goed waarvan Paulus praat. Net God kan regtig iets daaraan doen. Jy het geen beheer daar oor nie. Jy bid en smeek, maar dit lyk asof God nie luister nie. Dit is hoe Paulus gevoel het. Wat die doring in sy lewe ook al was, dit het hom seergemaak, en God het dit nie weggeneem nie.
Toe kry Paulus wel ’n antwoord van God. Kom ons sê hy het deur die inspraak van die Heilige Gees insig in sy probleem verkry. Hy het ontdek dat God se genade vir hom genoeg is. Teenspoed, ’n gebrek, pyn en lyding – ek kan tog ’n beter, nuttiger mens wees daarsonder. Maar nee, sê God, ervaar te midde van die dorings my genade. Ervaar dat elke dag van jou lewe gevul is met genade om sinvol en voluit te kan lewe ten spyte van die doring.
Maar daar kom nog iets by wat hierdie teks volmaak afrond. God se krag kom juis te midde van ons swakhede ten volle in werking. God maak graag gebruik van instrumente wat nie te veel van hulleself en hulle eie vermoëns dink nie. Juis deur hulle lewens verrig God wondere. Daarom moet ons, te midde van ons swakhede waaroor ons so baie kla, saam met Paulus sê: “Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees” (v 9).
Onthou: God se genade is altyd genoeg.
Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy