Gedagte vir die dag: God se Vreugde-Kind is hier

sterre_woestyn_pixabay_Stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het. (Lukas 2:14)

Dis al weer die tyd van Kersfeesmusiek, versierings en geskenke koop. Kersfees is lewensgroot op ons almal se radarskerm. Vir vele oor die aarde heen is dit ook die tyd dat Jesus se geboorte feestelik gevier word. 25 Desember is nie sy verjaarsdag nie. Hierdie dag is slegs die dag waarop Jesus se koms gevier word. In die Romeinse Ryk was dit gebruiklik om in hierdie tyd die songod se oorwinning oor die donker te vier. Toe besluit gelowiges om hierdie fees met splinternuwe inhoud te vul deur die koms van die ware Lig na die wêreld op 25 Desember te vier. Praat van innovasie! Die eerste Christene is nie lamgelê deur ’n heidense fees nie. Hulle het gekies om Jesus se koms in hierdie tyd vars te herdenk. Kom ons leer by hulle. Kom ons hou ons oog op Jesus en staar ons nie blind teen die gekommersialiseerdheid van Kersfees nie.

Kom ons wees ook opnuut bly dat Jesus na ons toe gekom het, selfs al was Hy was nie orals ewe welkom nie. Herodes die Grote het byvoorbeeld besluit daar is geen plek vir hierdie nuwe Kind in Palestina nie. Die aardse koning wou die Koning van die hemel met geweld van die toneel verwyder. Tog was daar orals mense wat Jesus met oop arms verwelkom het. Die sterrekykers uit die ooste het Jesus dadelik herken as God se Gestuurde; so ook die skaapwagters. Vir hulle, en vir elkeen wat Jesus vandag nog herken, gaan die hemele wawyd oop. Hulle hoor steeds die engele wat sing: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir elkeen met wie se lewe God tevrede is!” Mense wat Jesus herken en erken, ken vreugde.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.