Gedagte vir die dag: Groot in die Here

reenboog-dor-landskap-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het  nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel  betroubaar was as profeet van die Here. (1 Samuel 3:19-20)

Die Gees van God, die Gees van Pinksterdag se magtige rukwind, was werklik saam met Samuel, soos ’n brandglas wat lig saamtrek op een punt. “Die Here was by hom.” Wat ’n oorweldigende getuigskrif is dit nie! Hierdie jongman sou met God as sy bron oor Israel regspreek en konings salf. Die Here was weer in hom teenwoordig in Silo waar die tabernakel gestaan het; die heilige plek waar die Naam van die Here aangeroep is.

Samuel se wieg het in die lig gestaan, want sy moeder het hom aan die Here “afgestaan”. Hy sou ook oordeelsfoute maak en soms te hard optree, maar hy was die Here se man en almal “van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here”.

Ook tans in die bedeling van die Heilige Gees kies God steeds vir Hom mense wat namens Hom sekere take moet doen. Dit is dikwels swak mense en soms het hulle ernstige gebreke, maar hulle moet ’n sekere diens vir Hom verrig. Hulle kry sekere gawes: van gebed, insig, begrip, profesie en die Woord van God spreek.

Eintlik is ons almal God se profete deur ons optrede, ons houding, ons glimlag, ons erns, ons beginsels, ons groet en veral daardie “iets” wat uit ons straal wat goddelik is. Ons kan almal “groot” word in die Here, in ons klein kring. Ja, ons wens soms ons kan die Here hardop na ons hoor roep soos Samuel. Maar Hy “roep” op baie maniere. En, die beste van alles, ons kan altyd na Hom roep in die Naam van ons Here Jesus Christus en deur die fluistering van die Heilige Gees.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.