Gedagte vir die dag:  Helde

woestyn_klip_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Samuel 17:32-51

Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. (1 Sameul 17:50)

Uiteindelik gebeur dit: Dawid aanvaar die Filistyn se tartende uitdaging; hy verwerp sy eie koning se beskermingsmaatreëls. En hy beroep hom op sy geskiedenis met ’n leeu, ’n beer, en met die Here.

Só gaan hy die reusagtige Filistyn tegemoet, kierie en slingervel in die hand, vyf gladde klippies in sy sak. Hy sou uiteindelik net een nodig hê …

Dit is mos waarvan heldeverhale gemaak word: ’n grote teen ’n kleintjie; ’n swaard teen ’n slingervel. En die voorafwete: Hier word die rolle omgekeer; die skynbaar onmoontlike word waar.

Predikers het van altyd af dié Bybelse gegewe gretig aangegryp: Só, sou hulle verklaar, gebeur dit wanneer God aan jou kant is. Met my God spring ek oor ’n muur, loop ek ’n bende storm. God is vir ons; wie kan teen ons wees?

En só word die wen-teen-’n-oormag-teologie bevestig. Nommerpas, dalk, vir ’n beleërde klein volkie? In ’n ander tyd straks geskik vir ’n Geloftedagpreek?

Dit is nie sonder meer verkeerd nie. Bybellesers weet immers dat God se guns nie noodwendig rym met “groot en sterk” nie. Dat kleintjies en mense soos hulle dikwels die uitstalvenster van sy mag is (vgl. Matt 19:14). Dat sy krag in menslike swakheid aan’t werk is (vgl. 2 Kor 12:9).

Dit is egter so dat die held in die Dawidheldeverhale nie Dawid is nie. Dat kindertjies nie hul gebrek aan spierkrag as ’n prestasie kan aanbied nie en dat Paulus se doring in die vlees eerlikwaar nie iets is om op te roem nie. Kortom: Gelowiges moet nie vergeet dat daar niks heldhaftigs in hul geringheid is nie. Die held in hul verhaal is God. Altyd Hy. Nét Hy.

Grote God, aan U die eer!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here in alles in ons en om ons , U is altyd in beheer daarvan…U Groot en Heilige Naam ter ere

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.