Gedagte vir die dag: Herprogrammeer daagliks

Vrou_strand_stiltetyd_lees-Bybel_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle gees en gedagtes moet nuut word. (Efesiërs 4:23) 

My foon herinner my gereeld om sekere van die toepassings op te gradeer. Dan raak ek soms geïrriteerd en kan nie help om te wonder waarom hulle nie net die toepassings met rus laat nie, want dit werk mos goed genoeg. Elke maal wat ek egter die opgradering gedoen het, het die programmeerders iets in die toepassing ingeskryf wat dit net nog beter maak. Dan maak dit eensklaps vir my sin om so gereeld te herprogrammeer.

Die skrifgedeelte in Efesiërs 4:23 asook in Romeine 12:2 laat my verstaan dat dit vir ons as mense ook nodig is om daagliks ons gedagtes te herprogrammeer en te vernuwe. Die brein is ons “bedryfstel” wat al ons “toepassings” beheer en ons reaksies bepaal. In ’n artikel wat ek onlangs gelees het, verduidelik die joernalis die 90/10-beginsel. Ons kan 10% van wat met ons gebeur glad nie beheer nie, maar ons kan wel 90% van die tyd ons reaksie daarop beheer. ’n Nat handdoek op ’n bad ka mer vloer, ’n onbedagsame motoris wat voor jou inswaai, ’n slegte ver koue kan maklik jou sonnige dag in ’n donderwolk verander. Dan moet die herprogrammering plaasvind sodat jou reaksies verander word en jy die situasie soos ’n kind van God hanteer.

Ek weet dit is makliker gesê as gedaan, maar net soos wat herprogrammering nodig is om jou foon eksie-perfeksie te laat werk, so is dit ook noodsaaklik om jou gedagtes daagliks te vernuwe ten einde die mens te word wat God vir jou in gedagte het. Ons is in goeie hande. Ons het God ons Vader bankvas aan ons kant om te help waar dit vir ons te moeilik raak.”

Here, dit is so lekker om te weet dat U die Skepper van ons “bedryf stelsels” is en weet presies waar daar herprogrammering nodig is. Help ons asseblief om daagliks sterk genoeg te wees om ons gees en gedagtes nuut te maak sodat ons ’n lewe kan lei wat vir U aanneemlik is. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.