Gedagte vir die dag: Hoe kies ek reg?

watter-pad-om-te-neem

Foto: Argief.

Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit ’n deel van jou lewe. So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens. (Spreuke 1:7; 3:3-4)

Elke keer wanneer ek ’n groot besluit moet neem, vra ek die Here om my met wysheid en insig toe te rus. Ek besef alte goed dat my kennis beperk is. Die Spreukeboek sê wysheid gaan oor meer as om baie te weet. Dit dui op ’n basiese gesindheid wat elke aspek van ons lewe beïnvloed. Ons geloof in God moet die basis vorm van ons siening van die wêreld, ons gesindhede en ons optrede. Sonder God se hulp sal ons telkemale verkeerd kies, daarom moet ons Hom ken in ons besluite – ware wysheid begin met die dien van die Here.

Ons voel soms ons kan niemand – nie eens God – vertrou wanneer ons belangrike besluite moet neem nie. Hy weet egter wat vir ons die beste is. Hy weet beter as ons wat ons wil hê. Ons moet in elke keuse volkome op Hom vertrou. Dit beteken nie ons moenie ons verstand gebruik en alle moontlikhede oorweeg en intelligente besluite neem nie. God het immers vir ons denkvermoë gegee.

Dit is belangrik om advies van kenners in te win. Ons moet ons besluite in afhanklikheid van God neem, bereid wees om te luister en reggehelp te word. Ons moet ons besluite in gebed na God bring, die Bybel en ons ervaring as riglyne gebruik en só doen wat reg is. Kortom – ons moet God eerste in ons lewe stel.

Confucius het gesê: “Ware kennis is om te besef hoe min jy weet,” en Benjamin Disraeli het die stelling beklemtoon toe hy gesê het: “Om jou onkunde te besef is ’n groot stap na kennis.”

Wat ’n voorreg om nie op onsself aangewese te wees wanneer ons groot besluite moet neem nie; wat ’n voorreg om te weet daar is ’n Hoërhand wat ons sal vang as ons verkeerd kies. Die wonder van ons God is: al neem ons die verkeerde besluit, Hy is daar om ons weer op die regte pad te lei, Hy sal ons nie verwerp nie.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.