Gedagte vir die dag:  Hoofletter-hoop

koringland_bid.jpg

Foto: christianscienceweston.com

Lees Psalm 126

Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. (Psalm 126:5)

Hoop is ’n wonderlike ding. Die een of ander slim mens het eens gesê daardie ou spreekwoord “waar daar lewe is, is daar hoop” kan gerus omgekeer word dat dit só lui: Waar daar hoop is, is daar lewe.

En die Here weet ons het hoop nodig! Nodiger as brood.

Ja, daar is mense wat van hoop lewe. Hul ganse toekoms is op hoop gebou. Hul planne is op hoop gebaseer. Hierdie hoop wat hulle koester is nie, maar ’n hoop-op-die-beste nie. Hulle sal vir jou sê: “Die Here is my hoop.” Ook: “God is die Gewer van my drome.” En hulle droom groot.

Hulle sal jou ook vertel dat dit nie sommer ydele praatjies is nie en verreweg nie die gevolg van ’n dink-jouself-positief-kursus nie. Hulle het dit in geen pienkboekie raakgelees of by ’n teepartytjie aangesteek nie. Hulle het grondige redes waarom hulle so vol hoop is, sal hulle sê, ten spyte van beterweters se siniese gelag. Hulle sê gereeld dinge wat só begin: “Die Here het nog altyd …” En vul dit só aan: “Hy sal nou ook …”

As hulle die Nuwe Testament goed lees, sal hulle hul soort hoop dalk teologies regverdig en dit só formuleer: “Jesus Christus is my lewende hoop.”

Eintlik hoef hulle nie eens dáárheen te beduie nie. Hulle kan bloot Psalm 126 lees. Van die Here wat in ellendige situasies in- gryp. Wat hooploosheid volledig omkeer. Wat nie net sy kinders se trane afvee nie, maar ook ’n jubeling in hul hart plant.

Hy maak die ou dinge nuut. Hy is die Een wat uit vrugteloosheid lewe skep. Hy is die Uitdinker en Aandraer van drome, én die Waarmaker daarvan. Ons Hoop, heet Hy. Ja, so met die hoofletter.

Ook ék lewe van hoop, Here. Van alles waarmee U my so geduldig voer.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here dankie dat ons sal aanskou dat U die Waarmaker van U Woord is…Amen

OW ·

Dit is belangrik om te onderskei tussen Algemene hoop en Christelike hoop.Algemene hoop hang volkome van die omstandighede af om te bepaal of dit vervul sal word.Dit maak nie saak bv hoe hard jy hoop of dit sal reën nie,al wat saak maak,is hoe die lugstrome en lugdruk is.Christelike hoop lyk heeltemal anders omdat dit ‘n ander grond en fondament het.Paulus maak ‘n stelling Rom5:5.”Die hoop beskaam nie,want God…”Die Christelike hoop het sekerheid.Dit het ook grond:God.En God is in staat om sy beloftes te vervul.Hebreërs 11:1.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.