Gedagte vir die dag:  Hoop wat ánders lyk

wyse_manne_kersfees.jpg

Foto: pixabay.com

Jy sal altyd ’n toekoms hê. Jou hoop sal nooit beskaam word nie. (Spreuke 23:18)

Om te sê dat ek hoop op iets is dikwels ’n menslike begeerte oor baie dinge. Ons hoop dat ons en ons kinders gesond en gelukkig sal wees, dat dit môre beter sal gaan met ons lewe in verskillende opsigte, dat ons land en sy mense weer hoop sal vind in ’n beter toekoms. Soms hoop ons ons kan ’n beter mens wees: Iemand wat met groter deernis, geduld en selfbeheersing teenoor ander kan leef. Dink vandag: Waarop hoop jy?

Christus se koms het hoop ’n ander betekenis kom gee. Hy het al die vaagwees kom wegneem in die diepe sekerheid dat ons – ondanks alles – gered is. Dat ons – ten spyte van wie en wat ons is – Sýne is. Dat ons – ongeag al die dinge wat ons nie het nie, Hom – die Redder – in en by ons het om ons deur ons lewens te dra.

Dis Kersfees! ’n Tyd om weer te onthou dat jou Verlosser ín jou is. Jou hart ken. Jou oneindig liefhet. En dat vir Hóm … niks onmoontlik is nie!

Ek hoop op U. Op U alleen, Verlosser.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.