Gedagte vir die dag: Hou vas aan God se beloftes

sonsopkoms1.jpg

Foto: The Campus Companion

Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. (Rom 4:18, 21)

Lees Romeine 4:18-25

Abraham het dit reggekry om op God te bly hoop en aan sy beloftes te glo lank nadat die vervulling van daardie beloftes al onmoontlik was. En God beloon Abraham se onwankelbare geloof. Alhoewel hy én sy vrou reeds te oud was om kinders te kon hê, vervul God sy belofte dat Hy vir hulle ’n seun sal gee. Isak word gebore omdat Abraham aan God se beloftes vasgehou het, omdat hy ten volle oortuig was dat God die mag het om te doen wat Hy beloof het.

Wanneer ’n mens op die vlakte van moedeloosheid beland, is dit goed om God se beloftes vir jouself uit te spel en aan hulle vas te hou. Die Bybel sê selfs dat ons God aan sy beloftes vir ons behoort te herinner (Jes 62:6). Elke belofte van God is op vier pilare gebou, skryf L.B. Cowman in haar baie bekende dagboek Strome in die dorsland.

Die eerste twee is sy regverdigheid en heiligheid wat Hom nooit sal toelaat om ons te bedrieg nie. Die derde is sy genade wat Hom nie sal toelaat om te vergeet nie. Die vierde is sy waarheid wat nie sal toelaat dat Hy verander nie, maar wat Hom in staat stel om alles uit te voer wat Hy belowe.

Hemelse Vader, soos Abraham hoop ek op U en glo ek dat u mag het om te doen wat U beloof het. Dankie dat ek aan u beloftes mag vashou in die jaar wat voorlê. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.