Gedagte vir die dag: Innerlike krag – vrede

see_rotse_kaap_stiltetyd.jpg

Foto: Suné van Heerden

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Jesus Christus.” (Filippense 4:7 – AFR83)

Soms kan die dinge van die lewe net te veel raak, maar hou moed, met die Heilige Gees wat in jou woon, kan die vrede van jou hemelse Vader joune wees en kan jou siel rustig raak. Is dit nie wonderlik om te weet in die middel van die storm wat woed, kan jy, in geloof, stil word en weet God is in beheer.

Ongeag watter aardse lot ook al op jou mag afstuur, vrees nie, want die Here jou God is in jou, by jou en vir jou! Daarom, staan vas en bly getrou aan die Woord en voer die dapper stryd van geloof in jou hart en gedagtes. Soveel keer gee ons op net voordat die deurbraak kom. Die meeste van die tyd omdat ons vrees, ons van ons vrede beroof en ons dan meegesleur word deur omstandighede rondom ons.

Wees onstuitbaar in die Here; nie geraak deur wat jy sien nie, maar deur wat jy glo. Vertrou volkome op jou hemelse Vader en gaan met ʼn dankbare hart na Hom. Dit mag dalk baie deursettingsvermoë en vasberadenheid verg om kalm van gees te bly, maar deur jou onnodiglik te bekommer oor dinge wat nie binne jou vermoë is om te verander nie, gaan jou niks baat nie. Gee jou bekommernis aan die Here en laat dit by Hom, want Hy het jou oneindig baie lief en sal jou beskerm teen alle onheil.

Wanneer die vyand aangestorm kom soos ʼn rivier sal die Gees van die Here hom op loop jaag. Jesus is die Vredevors, wat gekom het om aan die wat in Hom glo, eer te gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid en blydskap in plaas van hartseer. Gaan in vrede, want die redding van die Here is naby!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U deur die werking van die Heilige Gees vir hierdie vrede wat alle verstand te bowe gaan….en daarvan getuig ek…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.