Gedagte vir die dag: Jesus verwonder Hom

mense_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom oor die man verwonder. Hy draai toe om na die skare wat Hom volg, en sê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie só ’n geloof teëgekom nie!” (Lukas 7:9)

Die Romeinse soldaat se getroue slaaf was siek. Daarom het hy ’n paar ouer Joodse mans na Jesus toe gestuur om te vra of Hy nie asseblief die slaaf gesond kan maak nie. Toe hulle by Jesus kom, het hulle eers ’n getuigskrif uitgerol sodat Hy kon verstaan waarom hierdie Romein gehelp behoort te word. Die soldaat was lief vir die Jode en het op eie koste die sinagoge vir hulle gebou. Wat ’n gawe man. Help hom, Jesus!

Jesus was dalk nie regtig beïndruk nie, maar Hy het in elk geval saam met die mans gegaan. Toe hulle naby sy huis kom, het die Romeinse offisier ’n boodskapper na Jesus gestuur met die woorde: “Here, moenie moeite doen om na my huis toe te kom nie, want ek verdien nie so ’n eer nie. Ek is nie eers waardig om U te kom ontmoet nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek weet, want ek staan onder die gesag van my bevelvoerende offisiere, en ek voer gesag oor my soldate. Ek hoef net te sê: ‘Gaan,’ en hulle gaan, of: ‘Kom,’ en hulle kom. En as ek vir my slawe sê: ‘Doen dit of dat,’ dan doen hulle dit” (v. 6-8).

Jesus was verbaas en beïndruk. Watter geloof! En dit van ’n Romein! Die man was nederig, volwasse en het geweet wat hy wou hê. Jesus kon nie anders as om sy verbasing met die mense by Hom te deel nie: “In Israel het Ek nie só ’n geloof teëgekom nie” (v. 9). Jesus het nie in die Romein se huis ingegaan nie. Die woord was reeds gespreek deur die geloof van die offisier en die slaaf was gesond.

As ons maar soveel geloof het in die woord van Jesus! Vandag moet ons Jesus versoek om net ’n woord in ons situasie in te spreek. Net een woord! As ons net kan glo soos die Romein.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat dit U wil was dat hierdie verhaal van ware geloof opgeteken is in U Woord…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.