Gedagte vir die dag: Johannes, apostel van die liefde

Foto: pixabay.com

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God. (1 Johannes 4:7)

Vra jy vir Johannes om aanwysings op ons geloofspad, sou dit ongetwyfeld wees: “Julle moet mekaar liefhê!” Daar sou egter baie water in die see moes loop voor Johannes so sou praat. Want van nature was Johannes allesbehalwe die sagte, vriendelike apostel van die liefde. Hy en sy broer Jakobus was bekend vir hul woeste humeure. Boanerges, “Seuns van die Donder”, was die bynaam wat Jesus vir hulle gegee het. Hulle was eersugtig en dikwels onverdraagsaam. Toe ’n Samaritaanse dorpie Jesus nie wou ontvang nie, was Johannes gereed om die vuur en swael van Sodom en Gomorra op hulle af te bid!

Wat het oor Johannes se lewe geloop? Jesus! Jesus het die jongste dissipel na Hom toe getrek. Hy het by Jesus geleer wat liefde regtig beteken. Uiteindelik het hy die apostel van die liefde geword wat meer as die ander dissipels oor Jesus se liefde gepraat het en dit gedemonstreer het.

Dis ’n groot troos om te weet dat dit met elkeen van ons ook kan gebeur, dat seuns en dogters van die donder apostels van Jesus se liefde kan word. Onthou wat Paulus sê: Jesus maak van ou mense nuwe mense. As iemand in Christus is, word hy of sy ’n hele nuwe skepping! Die ou dinge gaan verby; dit word al les nuut. Waaraan sal die mense langs ons pad ervaar dat ons dissipels van die Here is? Johannes vertel: Dit was die aand voor sy dood dat Jesus geglimlag het: Ek gee julle ’n nuwe gebod; julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.