Gedagte vir die dag: Langer as ’n vinger lank

berg_wolke_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

‘Ek is die Alfa en die Omega,’ sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. (Openbaring 1:8)

Dit was ’n pragtige lenteoggend toe ek daardie heerlike ontdekking gemaak het, boonop in Skrifgedeeltes wat ek al telkens gelees het.

Ek het deur ’n heuwelagtige landskap gery toe die dag om my breek. Daar was tye op die roete waar ek so hoog was dat ek kilometers ver kon sien. Die hemel het in ’n versigtige blou bo my uitgetroon. Die wolke doer op die horison het hulle soos groot wit reuse begin uitstrek. Agter hulle het die son skugter probeer deurbreek, hom gereed gemaak om die dag vrolik en helder te kleur.

Ek het gedink aan hierdie dag wat so fantasties begin, maar wat gaan uitloop en uiteindelik in ’n donker nag tot niet sal gaan. Ek het gedink aan die landskap met sy groen heuwels en grondpaaie en dat dit nie meer so gaan lyk wanneer die seisoen op ’n dag draai nie. Ek het gedink aan hierdie pad waarop ek ry, aan die begin en die einde daarvan.

Niks in hierdie wêreld bly dieselfde nie, het ek gedink. Dit begin, maar dit moet ook eindig. Al die prag, al die lekkerte, is net ’n vinger lank.

Dit was toe dat Openbaring 1:8 in my hart opklink: “ ‘Ek is die Alfa en die Omega,’ sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

God is die begin en die einde, die Onverganklike.

Dis Hy wat die dagbreek geskep het, wat landskappe en seisoene, berge en sonskyn en spierwit wolke geskep het. Hy laat die aand kom en die son weer skyn. Hy omarm alles, van die begin af en tot die einde toe.

Wanneer ons al hierdie dinge met dankbaarheid besef, begin ons op Hom fokus. Die houvas wat wêreldse dinge op ons het, verslap. Ons verlange na Hom waarmee alles begin en eindig, word groter.

En Hy nooi ons uit om saam met Hom tot die laaste toe te leef, om deel van sy onverganklike Koninkryk te word en die ewigheid saam met Hom deur te bring.

Dan maak die verlies van vlietende oomblikke en veranderende seisoene ons nie meer so hartseer nie. Ons word minder angstig en ons droefgeestigheid neem die wyk.

Want ons weet ons God is die Alfa en die Omega. Sy prag, sy lekkerte, is oneindig langer as ’n vinger lank.

Here God, dankie dat U die Begin en die Einde is. Dat ons te midde van alles wat verander, kan weet U is ewig.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GL ·

Vader mag ons almal U vrede en goedheid ervaar vandag en altyd. Dankie vir U teenwoordigheid in my lewe, sonder U is ek niks. Amen.

Willem ·

God is GROOT, LIEFDEVOL en ALMAGTIG. Ons ervaar die skepping so maklik as van selfsprekend. Ons kan maar net kyk na alles wat God geskep het – die ordelikheid en tyd vir alles op sy tyd, en dan wonder ons as ons ervaar wat vandag in die wereld aangaan –
chaos, liefdeloosheid, misdaad, geen respek vir niks. Maar ons het nog altyd baie om voor dankbaar te wees. Dank God daarvoor.

Mientjie ·

EK AANBID U ABBA VADER!!! U IS DIE BEGIN EN DIE EINDE! EK ERKEN U ENIGSTE SEUN..YESHUA DIE MESSIAH AS MY ENIGSTE SALIGMAKER EN VERLOSSER! HEILIG IS U VADER SEUN EN HEILIGE GEES!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.