Luister: Bid saam vir Indië

(Foto: Unsplash)

Die vervolging van Christene is ongelukkig ʼn baie ernstige probleem in Indië. Vervolging styg skerp in hierdie Suid-Asiatiese land en het die afgelope vyf jaar aansienlik toegeneem. Hindoe-ekstremiste het vir hulself ʼn doelwit gestel om alle nie-Hindoe-gelowe uit te roei en die kerk in Indië teen die einde van 2021 te vernietig.

Dit is waarom Geopende Deure die Impact India-veldtog in Juliemaand van stapel gestuur het om mense dringend van die situasie in dié land bewus te maak.

“Hoewel Indië die wêreld se grootste demokrasie is, is dit die tiende gevaarlikste land in die wêreld vir Christene. Hindoe-ekstremiste huiwer nie om uiterste geweld te gebruik om hul doelwit, naamlik om die Christendom teen die einde van 2021 uit te wis, te bereik nie.

“Christene leef in voortdurende vrees en ervaar diskriminasie van hul gemeenskappe, gewelddadige teistering, verkragting en moord weens hul geloof in Jesus. Talle van hulle vrees op ʼn daaglikse basis vir hul lewens,” het Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, onlangs aan Maroela Media gesê.

Geopende Deure Suider-Afrika se plaaslike vennote in Indië het wel gehoop dat die Covid-19-inperking die situasie draagliker sou maak en tot minder aanvalle op Christene sou lei, maar die teenoorgestelde het ongelukkig gebeur.

“Honderde Christene is verlede jaar fisiek aangeval omdat hulle die Here dien. Talle is ook gedurende die inperking broodnodige voedselhulp van die regering, mediese bystand en werk geweier vanweë hul geloof. As dit nie vir die ondersteuning van Geopende Deure se plaaslike vennote was nie, sou hulle van die honger omgekom het.”

Gouws vertel van ʼn Christenvrou, Vinita*, wat sedert sy en haar gesin hul harte vir Jesus gegee het, voortdurende diskriminasie, dreigemente, teistering en ander vorms van vervolging vanaf die plaaslike gemeenskap ervaar.

“Vinita, haar familie en hulle pastoor en sy familie is een aand by ʼn gebedsbyeenkoms oorval en vir meer as 30 minute met metaalstawe geslaan. Vinita se eenjarige dogtertjie is op die grond gegooi, maar het gelukkig net geringe beserings opgedoen.

“Vinita en haar suster Isha* het ernstige kopbesering opgedoen en die pastoor, sy dogter en sy vrou is ook ernstige beseer. Die mediese personeel by ʼn staatshospitaal het egter onder die druk van ekstremiste geswig en geweier om hulle te behandel.”

Gouws het gesê Geopende Deure se vennote het van die insident te hore gekom en ingetree om die slagoffers na ʼn private hospitaal te neem, die hospitaalrekening te betaal en hulle met kruideniersware te help.

“Vinita het ná die tyd getuig dat God haar gebede om hulle lewens te red, beantwoord het en dat Hy hulle deur die hele beproewing beskerm het. Sy sê sy sal die Here nooit verwerp nie omdat Hy hulle gehelp het om hierdie brutale aanval te oorleef. Sy het deur die Bybel, waar dit geskryf staan dat mense Christus se volgelinge sal vervolg, krag ontvang en ook die versekering dat God altyd by hulle is.

“Danksy die gebede en ondersteuning van Geopende Deure se vennote reg oor die wêreld, kan gelowiges soos Vinita weet dat hulle nie alleen is nie. Hierdie ondersteuning help hulle om in die aangesig van alle uitdagings sterk te staan,” het hy bygevoeg.

Gouws het gesê dit is nou belangriker as ooit tevore om op te tree en vir die Kerk in Indië te tree.

“Ons almal moet hande vat om te bid vir krag en beskerming vir die Kerk in Indië. As ons nie vandag optree nie, kan daar dalk môre nie meer ʼn Kerk in Indië wees om te ondersteun nie.

“Slegs God kan die situasie in Indië verander. Geopende Deure het daarom ʼn internasionale 31 dae lange gebedsveldtog vir die Kerk in Indië bekendgestel.”

Gouws doen ʼn beroep op lesers om vandeesmaand deel van Geopende Deure se gebedsveldtog te word en om ook vir ons geloofsfamilie in Indië in die bres te tree deur namens hulle te praat en op te tree.

Besoek www.standfortruthindia.co.za om te sien hoe jy die kerk in Indië kan help om te oorleef deur gebede, voorspraak en aksies. Jy kan ook hier die 31 dae-gebedsgids aflaai.

“Jou gebede, voorspraak en aksies vir ons vervolgde familie in Indië is kragtig. Hierdie is dalk jou laaste kans om namens die Kerk in Indië te praat en aan hulle te wys dat hulle wêreldwye geloofsfamilie hulle nie vergeet het nie,” het Gouws gesê.

  • Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor die situasie tans in Indië. Christene word die afgelope vyf jaar al erger in die land vervolg. Gouws verduidelik wat die situasie tans daar is en hoe gelowiges met die Impact India-veldtog Christene in Indië kan ondersteun. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here wees hulle genadig…vou hulle toe in U liefdevolle arms…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.