Luister: Chinese Christen versprei Bybels te midde van digitale vervolging

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

In ʼn donker stegie laai Ming* swaar bokse in die kattebak van sy motor. Hy haal sy foon uit en stuur ʼn SMS aan sy kontakte. “Ek is op pad na die ou plek,” tik hy. Dan skakel hy sy foon af. Die SIM-kaart word blitsvinnig verwyder sodat sy ligging nie opgespoor kan word nie.

Wat Ming doen, word deur die owerhede in China as ʼn misdaad beskou. As hy gevang word kan hy in hegtenis geneem en waarskynlik tronk toe gestuur word. Die bokse wat hy is sy motor laai, is nie gevaarlik nie en dit kan ook nie lewens verwoes nie. Sy kriminele vrag bevat Bybels en sy missie is om God se Woord so vinnig en diskreet as moontlik aan soveel mense moontlik te versprei.

In die streek waar Ming in China woon, word burgers se fone gemonitor, hulle sosialemedia-apps word beheer – enige verkeerde woord kan hom sy vryheid kos.

Ming is bewus van die gevaar, want hy is al voorheen gevang omdat hy die werk van God in hierdie omgewing doen.

Volgens Elizabeth Botha, mediabeampte van Geopende Deure Suider-Afrika, is dit moeilik om die Woord van God in ʼn land soos China te versprei.

“Die land is oorwegend Boeddhisties van geloof en die Chinese Kommunistiese Party, wat aan bewind van die land is, duld nie enige bedreiging teenoor sy neo-outoritêre heerskappy nie.

“Om dinge te vererger word China se metodes van digitale vervolging ook nog uitgevoer na ander lande wat Christenskap as problematies beskou,” verduidelik sy.

Broer Hao Ran*, ʼn plaaslike vennoot van Geopende Deure, staan Ming deesdae by met gebed en ondersteun hom in sy stryd om die Bybel aan Christene in die streek te versprei.

Met jou ondersteuning aan ʼn organisasies soos Geopende Deure wat wêreldwyd 360 miljoen vervolgde Christene in 65 land bystaan, kan iemand soos Ming voortgaan om God in hierdie moeilike omstandighede te dien.

In China word die vervolging op ʼn digitale wyse al moeiliker en meer intensief.

Vervolgde Christene, wat hulle geloof in die geheim moet beoefen, word versterk in hul geloof deur die hulp wat Geopende Deure se vennote aan hulle bied. Dit is waarom iemand soos Ming, ten spyte van die risiko vir sy eie lewe en vryheid, aanhou om God se Woord te deel. Hy wil sy mense help vashou aan hul geloof en die ware liefde van God aan die voete van Jesus in die Woord help vind.

Foto verskaf deur Geopende Deure

Bid asseblief:

  • Dat Christene wat die las van monitering en streng regulasies in die gesig staar, krag, wysheid en vrymoedigheid sal kry terwyl hulle uitdagings trotseer in die land.
  • Dat jongmense wat nog nie voorheen vervolging ervaar het nie, toegerus sal word om sterk te staan in hul geloof.
  • Dat die kerk in China ondanks toenemende vervolging sal aanhou om merkwaardige groei te ervaar.

Hoe kan jy Christene in China help?

Besoek www.opendoors.org.za en lees meer oor die vervolging van Christene in China. Teken ook in op Geopende Deure se weeklikse nuusbrief met gebedsflitse vir hierdie land of kry die gebedskalender vir vervolgde Christene wêreldwyd. Op die webwerf kan jy ook uitvind hoe om ʼn vrywilliger van Geopende Deure te word, saam met hulle te reis na vervolgde Christene of hoe om met finansiële ondersteuning betrokke te raak.

  • Maroela Media het met Elizabeth Botha, mediabeampte by Geopende Deure Suid-Afrika, gesels oor digitale vervolging van Christene, wat dit behels en die situasie in China bespreek. Elizabeth het ook die getuienis van Ming gedeel wat steeds Bybels versprei in sy land te midde van digitale vervolging.

*Skuilname word gegee vir veiligheidsdoeleindes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.