Luister: Gebed hou Christene in Midde-Ooste sterk

sirië

Argieffoto van Sirië.

Geopende Deure dryf reeds die afgelope sewe jaar al die “Hoop vir die Midde-Ooste”-veldtog om groter bewustheid te skep vir die intense vervolging van Christene in dié gebied.

Sirië is die afgelope 11 jaar deurlopend in ʼn burgeroorlog gewikkel met meer as ses miljoen burgers wat uit die land gevlug het, terwyl ʼn verdere ses miljoen mense in hulle eie land ontwortel is.

Terwyl die situasie rakende die burgeroorlog nou effens bedaar het, bly die bedreiging van ekstremiste wat glo daar is geen plek vir Christene in die land ʼn werklikheid.

Teen hierdie agtergrond moet Christene in die land dikwels die ergste swaarkry en vervolging die hoof bied net omdat hulle in God glo en Hom wil dien.

“Kerke in die land sê die situasie in Sirië is ʼn blywende, uitgerekte krisis met die middelklas wat nou naby aan hongersnood staan omdat die land se ekonomie in duie gestort het,” sê Elizabeth Botha, mediabeampte van Geopende Deure Suider-Afrika.

Tog hou Christene in die land steeds moed. Hulle bly getuig van God se lig en nabyheid te midde van swaarkry in Sirië.

Ferial*, ʼn 52-jarige vrou van Sirië, is een gelowige wat ondanks haglike omstandighede en daaglikse bedreigings nooit haar geloof in God versaak het nie.

Sy en haar gesin moes ʼn heel nuwe begin in ʼn ander stad maak weens die oorlog in hulle land, maar nou is hulle veilig.

Ferial getuig haar lewe het handomkeer verander sedert sy by die plaaslike kerk in haar nuwe tuisdorp betrokke geraak het. Sy het nader aan Hom beweeg en haar betrokkenheid by die kerk het haar verhouding met God nog verder versterk.

Hierdie kerk is een van Geopende Deure se Sentrums van Hoop, waar Ferial deesdae ʼn onderwyser is wat kinders meer leer oor Jesus en die kerk.

In die Midde-Ooste alleen het Geopende Deure se Sentrums van Hoop al meer as 286 gesinne gehelp en duisende kospakkies help versprei. Hier word holistiese ondersteuning aan gelowiges gebied, wat gebed, berading, Bybelopleiding, sakelenings en mediese sorg insluit.

By die sentrum in Sirië kry sowat 1 500 pasiënte per maand mediese sorg en word terselfdertyd bedien met die Woord deur sewe dokters en 12 personeellede wat almal toegewyde Christene is.

Die kerk en Sentrums van Hoop bly ʼn baken van lig in lande soos Sirië en Irak. Die Sentrum van Hoop is ʼn plek waar Christene soos Ferial vertroue in die toekoms kan kry en hulle geloof kan vier. Dit is ook ʼn plek waar hulle vir ʼn oomblik hulle vrees vir vervolging en onsekerheid kan afskud.

ʼn Baken van blywende hoop

Geopende Deure vra tans vir Christene wêreldwyd om deel te word van die “Een miljoen stemme in gebed”-veldtog vir Sirië en Irak. So kan daar ʼn miljoen gebede van hoop vir die kerk in Sirië en Irak gedoen word.

Die doel van hierdie veldtog is om Christene te mobiliseer en een miljoen mense wêreldwyd te kry om vir die kerk in Sirië en Irak te bid om hoop in hierdie gebied te laat voortduur.

Gaan na Opendoors.org.za om te registreer om deel te word van hierdie veldtog.

  • Elizabeth Botha van Geopende Deure Suider-Afrika het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor dié organisasie se “Hoop vir die Midde-Ooste”-veldtog. Sy het vertel van die verskil wat Geopende Deure se Sentrum van Hoop in die streek maak en verduidelik hoe jy kan deel word van die “Een miljoen stemme in gebed”-veldtog vir vervolgde Christene in die lande. Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.